Local newsNewsNews

‘KUNS’ laat jou anders na vriendskap kyk

'KUNS' gee ’n kritiese blik op wat vriendskap beteken. Is iemand jou vriend omdat dit is wie hy werklik is, of omdat hy inpas by die prentjie in jou kop van wie hy behoort te wees?

’n Peperduur Wit skildery, is die katalisator vir konflik tussen drie vriende wat die kompleksiteit van vriendskap uitbeeld in ‘KUNS.’

Hierdie produksie, wat vanaand (Saterdag, 3 Oktober om 18:00) vir die laaste keer by 2026 Momentum Aardklop gesien kan word, is ’n vertaling van die gevierde Franse dramaturg Yasmina Reza se teaterkomedie Art, wat al ’n Laurence Olivier- en ’n Tony-prys ontvang het.

Onder die regie van Marthinus Basson en met die uiters bekwame akteurs Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt, bring hulle KUNS tot sy reg in Afrikaans.

Pretorius vertolk die rol van Marc, ’n intellektuele man wat logika en orde waardeer. Hy voel dat hy sy vriende moet help om beter te wees en sien homself as ’n leier in dié opsig. Dit is juis hoekom hy totaal en al uit die veld geslaan is wanneer een van sy drie beste vriende, Serge (Ludwig Binge), ’n moderne en duur skildery van Antrios koop wat 200 000 frank kos.

Vir Marc lê die probleem daarin dat die skidery net ’n wit doek met subtiele wit lyne is en volgens hom niksseggend is. Hy beskryf dit as ’n “wit stuk stront”. Dit ontstel Serge, wat hom tot hul ander vriend, Yvan, wend om sy mening oor die skildery te hoor. Yvan (Wilhelm van der Walt), ’n gespanne skryfbehoeftesverkoper wat op die drumpel van trou staan, probeer eerder neutraal bly en stem saam met Serge dat die kuns hom aanraak.

Een van KUNS se treffende elemente lê in die woordewisseling tussen al drie karakters, waar hulle mekaar se identiteit, denkpatrone en selfs die rede vir hul vriendskap in twyfel trek. Net wanneer dit lyk of sake tussen die drie begin bedaar, verwys iemand na die “wit skildery” en begin die bose kommunikasiekringloop weer.

‘KUNS’ is ‘n toneelstuk wat jou oor vriendskap en mense se denkpatrone laat dink. Foto: Pieter Lombaard.

Die heen-en-weer-gestryery, soms waansinnig, dryf al die karakters ook soms tot komiese fisieke geweld, waar Marc per ongeluk vir Yvan teen die oor slaan toe hy vir Serge wou bykom, sowel as emosionele uitbarstings.

Een so ’n uitbarsting, en een van die groot redes vir nog ’n rits heen-en-weer-gesprekke tussen die drie, is wanneer Yvan laat is vir ’n fliek en ete.

Wilhelm van der Walt se monoloog (die rede dat hy laat is) is blitsig, aanhoudend soos ’n stoomtrein en ook ’n uitlaatklep vir emosies. Dit is een van die hoogtepunte van ‘KUNS‘ en is met gejuig en handeklap van die gehoor beloon.

Ludwig Binge se vertolking van Serge moet ook vermelding kry, want op die einde voel jy sy frustrasie aan oor sy vriende wat net glad nie soos vriende optree nie en hom oor sy keuses kritiseer.

Yvan (Wilhelm van der Walt) tydens ‘n spanningsvolle gedeelte in die ‘KUNS’. Foto: Pieter Lombaard.

Dit lyk of ’n 15-jarige vriendskap tussen die drie tot ’n einde sal kom soos hulle aanhou om verbale vuishoue na mekaar te gooi. Die probleem is dat niemand wil oorgee nie weens vrees, verwerping en ego. Gaan hulle vrede maak, of gaan die wit skildery altyd ’n wit olifant in die kamer wees? Dit is juis daardie onsekerheid wat die gehoor trek.

Bowenal verskaf ‘KUNS‘ ’n kritiese blik op wat vriendskap beteken. Is iemand jou vriend omdat dit is wie hy werklik is, of omdat hy inpas by die prentjie in jou kop van wie hy behoort te wees?

Kaartjies vir vanaand (3 Oktober) se vertoning by die Elgro Hotel is op SeatMe.co.za beskikbaar.

Met: Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt
Teks: Yasmina Reza
Verwerking: Naòmi Morgan
Regie en stelontwerp: Marthinus Basson
Beligtingsontwerp en verhoogbestuur: Nicolaas de Jongh
Assistentverhoogbestuurder: Jean du Plessis
Vervaardiger: KKNK
Produksiebestuurder: KKNK

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button