Local newsNewsNews

PAWS Haven al twee weke sonder krag

"Op die stadium hardloop ons teen R650 se petrol per dag om alles aan die gang te hou."

Vir die afgelope 14 dae sit Paws Haven sonder krag nadat die munisipaliteit weer hul kragtoevoer afgesit het. Te midde van hierdie struikelblokke is daar steeds ligpunte, danksy die Potchefstroomse gemeenskap wat saam met Paws Haven en hul talle diere staan.

“Op die stadium hardloop ons teen R650 se petrol per dag om alles aan die gang te hou, so ons moed sak bietjie in ons skoene om te dink elke sent wat ons ekstra gemaak het by Aardklop, gaan net so in die kragopwekker in op hierdie stadium,” verduidelik Simoné Kotze, een van die direkteure van Paws Haven.

Die VF Plus bied ook ondersteuning met die voorsiening van ’n waterkar, omdat Paws Haven nie hul boorgat kan gebruik nie. “Tot op hede het ons nog geen formele terugvoer of oplossing vanaf JB Marks Plaaslike Munisipaliteit ontvang nie. Die situasie is kompleks, maar kortliks kom dit daarop neer dat Paws Haven nie bloot ’n uitstaande elektrisiteitsrekening het wat ons weier om te betaal nie. Paws Haven het tans nie eens ’n munisipale rekening of formele ooreenkoms waarvolgens ons ons lopende verbruik kan betaal nie,” noem Kotze.

Die kragopwekker wat Paws Haven tans gebruik. Foto: Wouter Pienaar

Die vorige organisasie wat vanaf die perseel bedryf is, PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society), het munisipale befondsing ontvang en was verantwoordelik vir die betaling van hul eie dienste. Met die stigting van Paws Haven het daar nuwe bestuur, ’n nuwe organisasie en ’n nuwe bedryfsmodel gekom. Die vorige munisipale toelaag het tot ’n einde gekom.

“Hoewel uitstaande befondsing wat aan die vorige organisasie verskuldig was, afgeskryf is, is die historiese skuld wat aan die perseel gekoppel is, nie op dieselfde wyse hanteer nie. Paws Haven het van die begin af aangedui dat ons bereid is om vir ons eie lopende elektrisiteitsverbruik te betaal, mits ons op ’n skoon bladsy kan begin en ’n formele rekening en ooreenkoms ontvang. Ons kan egter nie verantwoordelikheid aanvaar vir die historiese skuld van ’n vorige organisasie nie.” Volgens Kotze is daar ’n moontlike oplossing wat bespreek is, maar deur die regte kanale eers moet gaan.

Paws Haven se Lloyd Mkandawire saam met een van die oulike honde wat tans ‘n huis soek. Foto: Wouter Pienaar


Ligpunte vir Paws Haven

Paws Haven het onlangs ’n ongelooflike R32 000-skenking vir die omheining van hul nuwe hondjiekamp ontvang. Hulle het ook ’n verdere R25 000-skenking van Berts Bricks ontvang.

“Hierdie geld word voorlopig veilig opsygesit en sal aangewend word vir die volgende fase van ons kennelverbeterings. Sodra die hondjiekamp voltooi is, sal ons meer oor die nuwe kennelplanne bekendmaak,” noem Kotze.

Paws Haven was ook by Momentum Aardklop betrokke, waar hulle ’n stalletjie bedryf het. Die oulike diere het talle feesgangers se harte gesmelt. “Ons het voor die fees gesê dat ons baie dankbaar sou wees indien ons gedurende die week net R10 000 kon insamel. Die gemeenskap het ons verwagtinge heeltemal oortref. Paws Haven het ’n ongelooflike R32 684 tydens Momentum Aardklop ingesamel.

“Momentum Aardklop het ons ook die geleentheid gegee om fondse vir ’n hondjie, Maya, in te samel. Maya benodig ’n operasie wat na verwagting ongeveer R30 000 kan beloop.”

*Die Herald het ’n navraag aan die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit gedoen, maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button