Donovan Marx in stabiele toestand ná operasie
Marx word tans in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom behandel.
Donovan Marx, die beesboer van Noordwes wat Woensdag, 28 Oktober in ’n ernstige aanval beseer is, is in ’n stabiele toestand nadat hy ’n operasie ondergaan het.
Marx word tans in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom behandel.
Volgens ’n mediaverklaring namens sy vrou, Louise Marx, en die familie het sy pyn, wat aanvanklik geweldig was, sedertdien verbeter. Sy beserings is egter ernstig en sy herstel bly die familie se grootste prioriteit.
Die familie het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor die gemeenskappe van Ventersdorp en Potchefstroom, asook mense regoor Suid-Afrika, vir die gebede, boodskappe en ondersteuning wat hulle sedert die aanval ontvang het.
Hulle het ook hul waardering uitgespreek teenoor die nooddienspersoneel, mediese personeel, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike boere, veiligheidsrolspelers en gemeenskapslede wat tydens en ná die aanval hulp verleen het.
“Ons is oorweldig deur die liefde en ondersteuning wat ons van oral ontvang. Ons het nie genoeg woorde om elke persoon te bedank wat vir Donovan bid, hulp aanbied en ons in hierdie moeilike tyd bystaan nie,” lui die verklaring namens Louise.
Die familie doen ’n beroep op die publiek om nie oor die omstandighede of moontlike motief van die aanval te spekuleer nie, maar die polisie toe te laat om sy ondersoek ongehinderd voort te sit.
Hulle vra ook dat hul privaatheid gedurende hierdie moeilike tyd gerespekteer word en dat onnodige oproepe, boodskappe en versoeke om inligting beperk word.
Besoeke aan Marx word tans, op aanbeveling van sy mediese span, beperk tot nabye familielede wat vooraf deur Louise goedgekeur is.
Die familie het verder gewaarsku dat enige fondsinsamelings, skenkingsveldtogte of openbare inisiatiewe wat in hul naam aangepak word, vooraf deur hulle goedgekeur moet word. Geen persoon of organisasie is gemagtig om sonder die familie se uitdruklike toestemming geld in te samel of openbare inisiatiewe in hul naam te loods nie.
Die SAPD se ondersoek duur voort. Enige persoon met inligting wat met die aanval verband hou, word versoek om dit aan die polisie en die familie se gemagtigde regsverteenwoordigers beskikbaar te stel.
Die familie vra dat mense nie self ondersoekstappe onderneem wat die polisie se werk kan benadeel of moontlike getuienis kan beïnvloed nie.
“Ons vertrou op die Here vir krag, genesing en herstel. Ons grootste wens is dat Donovan nou die nodige rus, behandeling en geleentheid sal ontvang om te herstel,” lui die verklaring.
Die familie het almal wat hulle in hul gebede dra en hul privaatheid respekteer, bedank.



