Local newsNewsNews

Herstel vorder, maar mediese rekeninge bly ’n groot uitdaging

Teen Mei het sy toestand weer versleg en verdere ondersoeke het uiteindelik ’n nuwe skyfprolaps aan die lig gebring.

Daar is darem goeie nuus in die lang en moeilike herstelpad van Potchefstroom-paramedikus Aldus Smith, wat onlangs sy vierde groot rugoperasie moes ondergaan.

Hoewel dit tans beter met hom gaan en hy tuis aansterk, is die pad na volkome herstel nog lank en bly die finansiële druk op hom en sy vrou, Annika, ’n groot bekommernis.


Aldus se stryd het twee jaar gelede begin toe hy in die uitvoering van sy pligte ’n rugbesering opgedoen het terwyl hy ’n pasiënt probeer bybring het. Sedertdien het sy lewe in ’n uitmergelende siklus van pyn, operasies en komplikasies ontaard.


In Maart vanjaar het hy reeds drie groot operasies ondergaan nadat komplikasies ná ’n vorige prosedure ontstaan het. Hoewel dit aanvanklik gelyk het of hy goed herstel, het die pyn nooit heeltemal verdwyn nie.


Teen Mei het sy toestand weer versleg en verdere ondersoeke het uiteindelik ’n nuwe skyfprolaps aan die lig gebring. Dit het nog ’n operasie genoodsaak, wat op 22 Oktober uitgevoer is. Hy is op 25 Oktober uit die hospitaal ontslaan en herstel tans tuis.


Hoewel hy steeds met pyn sukkel, is daar darem ’n verbetering in sy toestand en bly hy positief oor die pad vorentoe.


Die fisieke uitdagings is egter nie die enigste struikelblok nie. Vir iemand wat gewoond is daaraan om voortdurend aan die beweeg te wees en ander mense in hul nood te help, is dit besonder moeilik om nou self afhanklik van ander te wees.


Intussen staan Annika steeds aan sy sy terwyl die egpaar die emosionele en finansiële uitdagings van sy herstel probeer hanteer.


Die gemeenskap het Aldus tydens sy vorige operasies reeds ondersteun, maar die mediese uitgawes, reis- en verblyfkoste asook mediese fonds-tekorte het intussen ’n verdere finansiële las geword.
Die gesin doen daarom weer ’n beroep op die gemeenskap om hulle te help. Enige bydrae, ongeag die bedrag, sal ’n verskil maak en help om die finansiële druk op die gesin te verlig terwyl Aldus op sy herstel kan fokus.
Vir iemand wat sy lewe daaraan gewy het om ander se lewens te red, is dit nou hy en sy gesin wat ’n helpende hand nodig het.
Mense wat Aldus en Annika wil ondersteun, kan ’n bydrae maak deur hul BackaBuddy-veldtog by https://www.backabuddy.co.za/campaign/aldus-back-operation-number-4 te besoek of die QR-kode te skandeer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button