Weerlig slaan palmbome aan die brand – groter skade afgeweer danksy vinnige optrede
Die eienaar van die huis, Senshé Smith, was by 'n kerkdiens op die Bult, toe sy foto's kry van die palmbome wat by haar huis brand. Dit is toe sy en haar vriendinne begin bid.
Weerlig het amper verwoesting veroorsaak toe palmbome by ‘n huis in Vanderhoffpark gisteraand (Sondag, 15 November) aan die brand geslaan het.
Danksy die brandweer en die gemeenskap se spoedige optrede is die vuur betyds geblus voordat grootskaalse skade aan die huis op die hoek van Pieter de Villiersstraat en Govan Mbeki-rylaan kon ontstaan.
Volgens Vernon Smith was sy dogter, Senshé, nie tuis toe die weerlig geslaan het nie. Sy was op daardie stadium by die kerk.
“Ek is baie dankbaar vir almal se hulp. Die brandweer het die brand geblus en verskeie mense het ook gehelp. Toe ons hier aangekom het, was dit reeds donker.”
Senshé vertel dat sy ‘n oproep van haar vriendin, Anneke, tydens die kerkdiens ontvang het. Sy kon nie dadelik antwoord nie, en eers gedink dat Anneke hulp nodig het. Anneke het toe ‘n foto van die brand gestuur, wat ‘n skok vir Senshé was. Sy het besef dat sy dadelik moet bid.

“Ek het my ma gebel en toe hul hier aankom het baie mense alreeds gehelp. Ek het saam met iemand in die kerk gebid en op pad in die kar het ek en my twee beste vriendinne ook gebid en ingetree. Dit was radikaal. Ek prys die Here dat my huis steeds staan. Die wind het op die regte tyd gedraai en daar was ook reën op daardie oomblik. Ek is so dankbaar,” noem Senshé.
Die brand is omstreeks 20:00 geblus.


Vernon noem verder dat een van die bekende tuinornamente, ‘n kameelperd, ook skade opgedoen het, asook ‘n gedeelte van die grasdak.
“Mense het met emmers water opgedaag en daar was ook brandblussers. Die kameelperd het ook ‘n paar brandplekke opgedoen, onder meer aan sy pote.”
Vernon se pa, Pellie, was ‘n bekende inwoner van hierdie huis, wat meeste Potchefstromers ken juis oor die kameelperd.
“Ons het die video’s gesien waar dit lyk asof die vuur aan die een kant begin het en toe deur die dak beweeg het. Dit het daarna na die ander twee dele versprei, maar ek weet nie presies hoe dit gebeur het nie. Ons is net baie dankbaar, want die skade kon baie erger gewees het.”




