Ma se lewe onherroeplik verander ná gru-ongeluk
Stacey van den Berg (23) was maar 21 jaar oud en die ma van 'n drie maande oue babadogtertjie toe haar gesin se beplande naweekwegbreek na Margate in Januarie 2025 in 'n tragedie geëindig het.
Byna twee jaar ná ‘n gru-ongeluk wat haar lewe onherroeplik verander het, sit ‘n jong Potchefstroomse ma steeds grotendeels in ‘n rolstoel. Nou het sy ‘n tweede kans nodig om weer op haar eie bene te kan staan, maar die koste van die nodige operasie is ver bo haar vermoë.
Stacey van den Berg (23) was maar 21 jaar oud en die ma van ‘n drie maande oue babadogtertjie toe haar gesin se beplande naweekwegbreek na Margate in Januarie 2025 in ‘n tragedie geëindig het. Die bakkie waarin Stacey, haar dogtertjie Milané Rose en verskeie familielede gereis het, was in die vroeë oggendure van 10 Januarie in ‘n ernstige botsing met ‘n vragmotor betrokke.
Stacey het ernstige beserings opgedoen, waaronder ‘n traumatiese breinbesering, bloeding op die brein, ernstige gesigbeserings en verskeie frakture. Sy moes talle operasies ondergaan en is in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Haar dogtertjie het gelukkig ongedeerd daarvan afgekom.

Die ongeluk het die begin van ‘n lang en uitmergelende herstelpad gemerk. Sy onthou niks van die ongeluk of die eerste weke daarna nie. Ná die traumatiese breinbesering moes sy selfs basiese alledaagse take weer aanleer.
Maar een van die moeilikste ervarings was die feit dat sy nie vir haar eie baba kon sorg nie.
“Ek kon onthou as ek haar in ‘n ander vertrek hoor huil en weet ek is nie die een wat haar troos nie. Ek kon haar nie eers ordentlik vashou nie. Dit was hartverskeurend,” vertel Stacey.
Sy is ná meer as ‘n maand in die hospitaal ontslaan en het daarna met ‘n lang proses van fisioterapie en rehabilitasie begin. Vir ‘n jaar het sy volgehou in die hoop dat haar heup mettertyd sou herstel. Maar die terugslag het in September gekom toe opvolg-X-strale by die staatshospitaal gewys het dat die femurkop in haar linkerheup dood is.
Stacey is met avaskulêre nekrose (AVN) gediagnoseer. Dit is ‘n toestand waarin die bloedtoevoer na die beenweefsel onderbreek word, wat veroorsaak dat die been doodgaan en kan ineenstort. In Stacey se geval het die femurkop ineengestort en is daar nou feitlik net been op been.
‘n Heupvervanging is nodig om haar ‘n kans op beter beweeglikheid te gee. Die vooruitsig op behandeling by ‘n staatshospitaal is egter ontmoedigend. Volgens Stacey strek die huidige waglys vir heupvervangings by Steve Biko Akademiese-hospitaal oor drie tot vyf jaar.
“Ek voel asof ek reeds so baie tyd gemors het om te probeer genees. Ek kan nie nog drie tot vyf jaar wag nie. Ek wil net die operasie kry sodat ek met my lewe kan aanbeweeg,” sê sy.

‘n Privaat spesialis het intussen ‘n kwotasie van ongeveer R380 000 vir die operasie verskaf. Die bedrag kan egter verander en sluit nie rehabilitasie of nasorg in nie. Stacey se backabuddyveldtog mik na R500 000 om die heupvervanging, hospitaalkoste, spesialisfooie, vervoer, fisioterapie en verdere rehabilitasie te help dek.
Haar dogtertjie, Milané Rose, wil soos enige besige kleuter, speel, hardloop en haar ma se aandag hê. Dit is juis dié eenvoudige oomblikke wat Stacey die graagste saam met haar wil beleef.
“Dit is vir my baie sleg dat ek nie saam met my dogtertjie op die vloer kan sit en speel nie. Ek wil net weer die ma wees wat ek graag wil wees. Ek wil haar kan optel, met haar speel en nie heeltyd beperk word deur wat my liggaam nie kan doen nie.”
Stacey is intussen getroud en haar man werk tans in die landboubedryf in Tennessee, Amerika. Ten spyte van die pyn, onsekerheid en uitdagings wat die afgelope byna twee jaar meegebring het, probeer sy steeds positief bly. Sy besef dat ‘n heupvervanging nie alles wat gebeur het ongedaan sal maak nie, maar glo dit kan haar lewensgehalte en onafhanklikheid aansienlik verbeter.
“Ek weet daar is lig aan die einde van die tonnel. Ek glo ook dat God groter planne vir my het. Die ongeluk het baie van my weggeneem, maar ek gaan aanhou probeer om my lewe terug te kry.”
Klik hier of skandeer die QR-kode hier om Stacey se backabuddy-veldtog te ondersteun.




