Nuwe museum vier NWU se ryk geskiedenis
Die nuut-ingerigte museum van die Noordwes-Universiteit (NWU) is amptelik op Donderdag, 5 November 2026 geopen.
Die nuut-ingerigte museum van die Noordwes-Universiteit (NWU) is amptelik op Donderdag, 5 November 2026 geopen. Gedurende 2025 en 2026 is die museumruimte in geheel opgeknap om die nuwe NWU Museum te skep.
Die uitstalling beslaan twee vloere. By die ingang is uitstallings wat die geskiedenis van die drie kampusse uitbeeld, die ontwikkeling van die NWU se identiteit, logo, leierskap en die lied van die Universiteit.
Langs die ingang is uitstallings wat die stories vertel van die instellings wat die NWU voorafgegaan het, insluitende die PU vir CHO, die Potchefstroomse Onderwyskollege en die Universiteit van Bophuthatswana.

Benewens die uitstallings, het die uitstalkaste laaie waar belangrike momente in die geskiedenis beskryf word. Die geskiedenis van die erfenisgeboue op die kampus het ruim plek gekry. Die lewendige studentelewe van die PU vir CHO word vertel met stories van Alabama, die studentekoerant Wapad, SJGD en Tarentaal, benewens ander.
’n Visuele uitbeelding van die mashoof van Wapad toon die geskiedenis van die koerant vanaf 1946 toe dit gestig is.

Diana, die oorspronklike olifantbeeld wat in die Catherine-fontein op die kampus van die ou POK gestaan het, het ook ’n plek in die museum gevind. Die standbeeld is verwyder nadat studentepoetse dit met heelwat letsels gelaat het. ’n Nuwe “Diana” het die ou een in 2008 vervang.
Op die tweede vloer verskuif die fokus na die verhaal van die NWU sedert die 2004-samesmelting. Die uitstallings beklemtoon die Universiteit se groei en ontwikkeling, belangrike mylpale, prestasies en gedenkwaardige oomblikke oor die jare. Uitstallings word spesifiek gewy aan die Universiteit se koshuise met foto’s, artefakte en historiese inligting wat die studentelewe en koshuistradisies uitbeeld.
Besoekers word aangemoedig om die uitstalkaste se laaie oop te trek waar bykomende stories en inligting ontdek kan word oor die Universiteit se geskiedenis. Benewens ander inligting, kan besoekers van die prestasies van die fenomenale oudstudente van die NWU lees.
Die voltooiing van die fisiese museum is een van die strategiese prioriteite van die Universiteit en weerspieël die NWU se toewyding om sy institusionele herinneringe te bewaar. Die museum is nie net ’n bewaarplek van geskiedenis nie, maar ook ’n tuiste waar personeel, studente, oudstudente en besoekers die mense, gebeure en prestasies kan ontdek wat die Universiteit gevorm het.
Die nuwe museum het ’n vars, moderne voorkoms en is ontwerp deur ’n Johannesburgse ontwerpfirma wat spesialiseer in die ontwerp van kantore en hotelle.
Die NWU Museum se fokus verskuif nou daarna om toegang tot die erfenis te verbreed deur dit digitaal en virtueel beskikbaar te stel. Dit sal ’n groter gehoor in staat stel om die NWU se geskiedenis te leer ken en verseker dat hierdie verhale toeganklik bly vir toekomstige geslagte.
Geskiedenis van die NWU Museum
Vroeg in die 1920’s het mnr JV Coetzee, ’n onderwyser aan die Potchefstroom Gimnasium, die voortou geneem om ’n museum vir die Potchefstroomse Universiteitskollege te skep. Hy het ’n fondsinsameling begin om ’n ossewa te koop wat teenwoordig was by die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.

Coetzee het ’n muntlegging gereël. Studente en leerlinge van Gimnasium het tiekies gebring. ’n Bedrag van £2/7/6 (ongeveer R12 vandag) is ingesamel en die wa is gekoop. Inaggenome dat
80 tiekies een pond (£) maak beteken dit dat meer as 160 tiekies ingesamel is! Diewa en ander artefakte is geberg in die ou meul wat gestaan het waar die Konservatorium
vandag is.
In 1961 is die wa aan die Potchefstroom Museum geskenk.
PU-Kana Museum
Teen 1977 was die skep van ’n museum om die geskiedenis van die Universiteit uit te beeld, onder bespreking. ’n Gebrek aan ruimte het verhoed dat dit ’n werklikheid word. Die stadsraad het ’n huis in Joostestraat as ’n museum hersoneer om die poging te ondersteun. ’n Museumkomitee, onder leiding van prof Hendrik van der Wateren, is gevorm.
Op 26 Mei 1989 is die PU-Kana Museum amptelik deur die Rektor, prof Carools Reinecke, en die Kanselier, prof Hennie Bingle, geopen. Die museum is in 2002 verskuif na die oosvleuel van die Ferdinand Postma-biblioteek.

Presies 140 jaar na die besluit geneem is om ’n Teologiese Skool in Burgersdorp te begin, op 20 Mei 2009, het die NWU Museum sy deure daar geopen. ’n Reuse-uitstalling wat die geskiedenis van die PU vir CHO uitgebeeld het, is vertoon. Dit het die geweer ingesluit wat deur een van die studente van die Teologiese Skool wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het, gebruik is. Ander items het ingesluit: die tikmasjien wat prof Ferdinand Postma gebruik het, kostuums van die Alabama Studentegeselskap en historiese laboratoriumtoerusting.
Die Universiteit se Argief is in September 1993 geskep en bewaar rekords en materiaal wat betrekking het op die NWU se geskiedenis. Sedert die totstandkoming van die NWU in 2004, bestuur die Potchefstroomkampus ook die argivale rekords met behulp van ondersteunende personeel by die Mahikeng- en Vanderbijlpark-kampusse. In 2017 is die drie kampusse se argiewe gekonsolideer in een departement.
Die Departement Rekords, Argief en Museum het in 2017 ’n onafhanklike entiteit geword, nadat dit vroeër onder die Departement Rekords en Administrasie gefunksioneer het. Dit is verantwoordelik vir die klassifikasie, behoud, vernietiging, toeganklikheid, sekuriteit, vertroulikheid, opleiding en kwaliteitbestuur van rekords.



