Local newsNewsNews

Vyf vas ná R2,7 miljoen kabeldiefstal

Die vragmotor is voorgekeer en deursoek, waarna lede op 5,3 ton aluminiumkabels afgekom het.

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem nadat Transnet-aluminiumkabels met ’n geskatte straatwaarde van R2,7 miljoen vroeg Vrydagoggend, 20 November in Potchefstroom teruggevind is.

Die verdagtes, tussen 23 en 52 jaar oud, is omstreeks 04:30 deur lede van die Potchefstroomse Misdaadvoorkomingseenheid -en reaksie-eenheid in hegtenis geneem.

Volgens die polisie het lede op inligting van die Belrex-kameratoesigstelsel gereageer oor ’n verdagte vragmotor wat vanuit die Mooibank-omgewing in die rigting van Potchefstroom beweeg het.

Die vragmotor is voorgekeer en deursoek, waarna lede op 5,3 ton aluminiumkabels afgekom het. Twee verdagtes is in die vragmotor in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat ’n wit Mazda glo die vragmotor begelei het. Die voertuig is ook voorgekeer en die drie insittendes is in hegtenis geneem nadat hulle nie ’n bevredigende verduideliking vir die besit van die kabels kon gee nie.

Transnet-amptenare het die kabels as die maatskappy se eiendom geïdentifiseer.

Die kabels en albei voertuie is deur die polisie op beslag gelê.

Kolonel Anne Magakoe, polisiewoordvoerder, het gesê sake van beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom is geopen en word ondersoek.

Die vyf verdagtes sal na verwagting Maandag, 23 November in die Potchefstroom-landdroshof verskyn.

Luitenant general Arthur Peter Adams, Noordwes-polisiekommissaris, het die lede wat by die operasie betrokke was, geloof vir hul vinnige optrede, waaksaamheid en doeltreffende samewerking.

Hy het ook die belangrike rol van samewerking tussen rolspelers, veral die deel van inligting en kameratoesig, beklemtoon.

“Die SAPD sal voortgaan om samewerking met relevante rolspelers te versterk en operasies op te skerp om te verseker dat diegene wat betrokke is by die diefstal, vandalisme en vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur voor die gereg gebring word,” het Adams gesê.

Hy het benadruk dat die beskerming van noodsaaklike infrastruktuur ’n prioriteit vir die polisie bly, aangesien dit ’n belangrike rol in die ekonomie, dienslewering en die welstand van gemeenskappe speel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button