’n Sportsoort wat amper drie eeue oud is, word steeds op eie bodem beoefen, met die Potchefstroom-Mooirivier Jukskeiklub wat in Grimbeeckstraat die sand behoorlik laat spat.
Skeie het op Saterdag, 14 November, suiwer en akkuraat deur die lug getrek voordat dit klokslag die pen getref het tydens ’n vriendskaplike byeenkoms waar lede mekaar in spanne aangepak en ook hul vaardighede opgeskerp het.
Die passie wat hierdie groep mense het, is aansteeklik, met jonk en oud, van 15 tot 88 jaar, wat die sport by dié klub beoefen.
Dit is juis die toeganklikheid van die sport en die goeie gees wat dit besonders maak.

Die bane by die Mooirivier Jukskeiklub is in die 1960’s aangelê. Hierdie bane, geleë in Grimbeeckstraat, is ryk aan tradisie, met die klub wat tans Noordwes verteenwoordig. Die klub neem ook saam met Klerksdorp aan die plaaslike liga deel.



“Dit is belangrik om die gemeenskap op te bou. Dit is juis ’n sport wat mense van verskillende ouderdomme en agtergronde bymekaar laat kom. Jukskei is ’n spansport, maar jy speel ook individueel. Wanneer jy gooi, is jy basies op jou eie, maar dit is met die doel om jou span te laat wen. ’n Mens leer ongelooflik baie,” vertel Dirk Uys, een van die lede van die Potchefstroom-Mooirivier Jukskeiklub.

Die geskiedenis en oorsprong van jukskei
Jukskei is ’n tradisionele Suid-Afrikaanse sportsoort wat ontstaan het uit die behoefte aan ontspanning, tydverdryf, kompetisie en sosiale verkeer.
Volgens oorlewering dateer die oorsprong daarvan uit ongeveer 1734, toe goewerneur Jan de la Fontaine Fort de Rietvallei naby die Buffelsjagrivier gestig het. Families het besluit om iets pret te doen en houtstompe na ’n voorwerp in die grond gegooi.
Transportryers het die speletjie later by uitspanplekke tot ’n georganiseerde aktiwiteit ontwikkel. Die eerste amptelike wedstryd het op 4 November 1939 op die plaas Keerweder in Klein-Drakenstein plaasgevind. Die Suid-Afrikaanse Jukskeivereniging (SAJR) is op 25 Oktober 1940 gestig.
Die naam jukskei is afgelei van die houtpen (skei) wat oorspronklik uit die juk van ’n os getrek is. Vandag is dit ’n erkende amateursportsoort wat deelnemers uit verskillende kultuurgroepe lok.


Hoe word die sport gespeel?
Jukskei behels die gooi van houtpenne (skeie) oor ’n vasgestelde afstand na ’n pen wat in ’n sandput geplant is. Die gooiafstand word deur die verskillende ouderdomsgroepe bepaal en wissel van 11 tot 16 meter.
Elke span bestaan uit vier spelers, insluitend ’n kaptein, en elke speler het twee skeie. Spelers gooi om die beurt hul skeie na die pen.
’n Skei wat binne 460 mm van die pen lê, verdien een punt. Slegs die span met die skei naaste aan die pen kan tydens ’n gooibeurt punte aanteken. Indien die pen omgegooi word, verdien die span drie punte.
’n Skof bestaan uit 23 punte. ’n Span wat meer as 23 punte aanteken, bars en moet weer van nul af begin.
Vir meer inligting oor die klub en die sport kan Anelda by 083 355 0394 geskakel word.



