Local newsNewsNews

Ma eis antwoorde ná seun se dood by Witrand

De Bruin beweer dat Riaan op die dag van sy dood begin naar word het, maar dat sy nie betyds deur die hospitaal in kennis gestel is nie.

Die familie van Riaan Jansen van Vuuren, ’n outistiese pasiënt wat in Maart 2025 by die Witrand-psigiatriese hospitaal in Potchefstroom oorlede is, eis steeds antwoorde oor die omstandighede rondom sy dood.

Riaan se ma, Noeleen de Bruin, beweer haar seun is nie betyds gehelp nadat hy begin siek word het nie en dat hy moontlik aan sy eie braaksel verstik en versmoor het. Riaan is een van ‘n paar pasiënte wat in die afgelope twee jaar by Witrand oorlede is.

Die Noordwes Departement van Gesondheid het ook al ‘n ondersoek van stapel gestuur. Op 17 September het Sello Lehari, die Noordwes-LUR vir Gesondheid, die bevindinge van ’n interne ondersoek na Witrand se bedrywighede bekend gemaak. Die ondersoek, wat deur ’n negeledige span uitgevoer is, is aanvanklik na die dood van ’n ander pasiënt, Quinton du Plessis, in Junie 2025 van stapel gestuur.

Volgens die departement se bevindings is daar onder meer langdurige probleme met pasiëntesorg, personeeltekorte, infrastruktuur, fisieke veiligheid en kliniese bestuur geïdentifiseer.

By navraag het Witandpsigiatriese hospitaal deur wyse van Nico Masiu, assistentdirekteur van kommunikasie, genoem dat die familie geraadpleeg en ’n volledige verslag aan hulle beskikbaar gestel is. Die saak is daarna afgesluit.

“Die hospitaal weerhou verdere kommentaar uit respek vir pasiëntvertroulikheid, aangesien ons nie besonderhede oor die oorledene met derde partye mag deel nie,” het Masiu gesê.

Volgens de Bruin was Riaan sedert 2022 ’n inwoner van Witrand. Sy noem dat die familie tot dusver nie werklik duidelikheid gekry het oor wat op die dag van sy dood gebeur het nie.

“Ons wil ook graag antwoorde en geregtigheid hê as familie,” sê de Bruin. Sy vertel dat Riaan tydens sy laaste besoek aan die huis in Februarie 2025 reeds tekens van swak gesondheid getoon het.

“Die laaste keer wat hy by die huis was, was sy gesig geswel en sy oë baie rooi. Die hospitaal kon nie regtig antwoorde gee nie. Volgens een van die verpleegsters was dit die gevolg daarvan dat pasiënte buite op die warm sement gelê het,” sê sy.

De Bruin beweer dat Riaan op die dag van sy dood begin naar word het, maar dat sy nie betyds deur die hospitaal in kennis gestel is nie. De Bruin sê Riaan is daarna na die hospitaal se versorgingseenheid geneem, maar sy toestand het nie verbeter nie. Hy is later na Potchefstroom-hospitaal oorgeplaas.

“Die dokters kon daarin slaag om sy hart weer aan die gang te kry, maar hy is later die aand oorlede. Soos ek verstaan, was daar braaksel in sy longe.”

Sy sê sy is eers ná 17:00 ingelig dat haar seun oorlede is en dat die familie tydens ’n vergadering met die hospitaal se bestuur nie bevredigende antwoorde kon kry nie.

“Ons wil weet wat daardie dag gebeur het. Ons kind was in die sorg van die hospitaal en ons wil weet hoekom hy nie betyds gehelp is nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button