Swaar weer vir Potchefstroom voorspel
Motoriste word veral gewaarsku om hul spoed te verminder en hul hoofligte te alle tye aan te hou tydens reën.
Potchefstroom en omliggende gebiede is onder ’n ernstige weerwaarskuwing nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens en The Weather Channel inwoners maan om paraat te wees vir onstuimige toestande.
Volgens die waarskuwing kan swaar donderstorms, intense stortbuie en gereelde weerlig in die gebied voorkom. Rukwinde van sowat 6km/h kan ook verwag word, wat sigbaarheid en padtoestande verder kan verswak.
Motoriste word veral gewaarsku om hul spoed te verminder en hul hoofligte te alle tye aan te hou tydens reën. Nat paaie verhoog die risiko van gly en beheer verloor, terwyl oorstroomde gedeeltes ten alle koste vermy moet word.
Veiligheidswenke vir inwoners:
Op die pad:
- Verminder spoed om gly en watergly (hydroplaning) te voorkom.
- Hou hoofligte aangeskakel vir beter sigbaarheid.
- Vermy oorstroomde paaie, die diepte en stroom kan misleidend wees.
- Moenie spoedbeheer (cruise control) gebruik nie.
- Indien jou voertuig in stygende water vassit, verlaat dit onmiddellik en beweeg na hoër grond.
By die huis en buite:
- Vermy bome en hoë strukture tydens weerlig.
- Moenie elektriese toestelle of skakelaars met nat hande hanteer nie.
- Maak dreine en geute skoon om wateropbou te voorkom.
- Beveilig of skuif buitemeubels binnetoe.
- Bly op hoogte van weerwaarskuwings via radio of selfoontoepassings.
- Hou ’n noodpakket gereed met noodsaaklikhede soos ’n flits, batterye en drinkwater.
Vir voetgangers:
- Moenie deur vloeiende water loop nie, selfs vlak water kan jou meesleur.
- Dra helder klere en skoene met goeie greep om val te voorkom.
Owerhede moedig inwoners aan om waaksaam te bly aangesien toestande vinnig kan verander.



