Waar is Potchefstroom se straatligte?
Volgens inwoners word klagtes oor die donker strate gereeld by die munisipaliteit aangemeld.
Potchefstroom verkeer toenemend in die donker, met inwoners wat al maande, en in sommige gevalle selfs jare, sonder werkende straatligte sit.
Ry deur bykans enige buurt in die dorp en dit raak gou duidelik, brandende straatligte is eerder die uitsondering as die reël. In baie strate heers daar saans ‘n bykans pikdonker stilte wat inwoners onrustig laat.
Alet Schoen Murray vertel daar is al jare lank nie straatligte nie. “Dis gevaarlik want skelms kan heerlik rondloop omdat niemand hulle kan sien nie. Veral saam met die oorgroeide bome wat nie gesny word nie. Van die takke hang al in die straat en krap die karre.”
Die situasie is veral kommerwekkend op die Bult, waar studente gereeld in die aand te voet huis toe moet gaan. Sonder behoorlike beligting is sigbaarheid uiters swak en kan mens skaars jou hand voor jou gesig sien, ‘n werklikheid wat veiligheidsrisiko’s verhoog.
Christo van der Walt meen die straatligte werk al vir vier jaar nie. “Straatligte word al vir meer as 4 jaar nie herstel in Bailie Park nie. Die wat werk word ook nie deur die dag afgeskakel nie.”
Volgens inwoners word klagtes oor die donker strate gereeld by die munisipaliteit aangemeld. Verskeie buurte het al herhaaldelik hul kommer uitgespreek, maar die probleem blyk steeds voort te duur.
Katie Marais sê met die straatligte wat af is, kan mens nie die slaggate sien nie, veral as dit gereën het.
Wandie Pretorius is bekommerd oor veiligheid. “Potch se straatligte in Miederpark en Suiddorp is ‘n groot probleem en veiligheidsrisiko. Hulle teiken juis die gebiede want daar is geen straatkameras asook geen straatligte.”
Navrae is aan die munisipaliteit gerig, maar teen die tyd van publikasie is geen terugvoer ontvang nie. Intussen bly Potchefstroom se strate gehul in duisternis, met inwoners wat antwoorde en lig soek.



