Weer tyd vir Hou- die-rand-in-Potch
Twintig jaar gelede het die destydse sakekamer ’n relatief suksesvolle projek .

Twintig jaar gelede het die destydse sakekamer ’n relatief suksesvolle projek .
Hou-die-rand-in-Potch gehad waarin Potchefstromers gevra is om eerder in Potchefstroom te koop. Sakelui is ook gevra om eerder mekaar te ondersteun as om sake buite die stad te doen. Die rede is voor die hand liggend. Hoe meer geld binne die stad gehou word, hoe groter die omsette van plaaslike sakelui en hoe beter behoort die verskeidenheid produkte, prys en diens plaaslik te wees.
Die projek het ook gespruit uit navorsing wat saam met die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings gedoen is waaruit geblyk het dat miljoene buite die stad bestee word. Van die belangrikste redes waarom dit gebeur het was die gebrek aan verskeidenheid, prys en diens. Hoewel die sake-omgewing in die stad sedertdien verander het, sal ’n soortgelyke ondersoek baie handig wees vir sakelui en verbruikers.
Die Potch-Tlokwe Sakekamer sal beslis vir sy lede, maar ook vir ander sakelui in die stad, waardevolle inligting kan gee en wat uiteindelik tot die voordeel van die verbruiker sal wees. Uit die navorsing kan verbruikersbehoeftes bepaal word en dus waar leemtes of geleenthede vir entrepreneurs is.
Uit die projek het ook die vraag ontstaan in watter mate groot instansies soos die stadsraad en universiteit van plaaslike sakelui gebruik maak om produkte of dienste te lewer en of daar byvoorbeeld ’n beleid is om sover moontlik plaaslike sakelui te ondersteun.
Dit moet weer gevra word. Die resultate van sulke navorsing en die rol wat die sakekamer kan speel om almal te oorreed om die rand in Potchefstroom te hou, kan die plaaslike ekonomie laat groei in ’n tyd waar dit swaar trek.



