Rooi Resiesfiets* skryf:
Die gebruik van E-scooters en die berig van Meneer Sirkus in die gedrukte uitgawe van die Potchefstroom Herald (30 Julie) neem my dadelik terug na my eie studentejare hier in Potchefstroom gedurende die middel tagtigs.
‘n Rooi resiesfiets was my vervoermiddel van keuse vanaf Van Riebeeckstraat (nou Peter Mokabastraat) tot by die Fakulteit Stads- en Streekbeplanning op die kampus. Daar was destyds geen spesifieke infrastruktuur vir fietse nie, en die meeste studente het daagliks maar langs die pad tussen motorvoertuie of op die sypaadjie hul weg gevind.
Die gebrek aan fietsbane of ander fietsry-infrastruktuur het daartoe gelei dat ek in my derde jaar vir die laaste keer met my fiets van ‘n sypaadjie afgespring het. Die staalraam het op twee plekke gebreek. Nou, ongeveer 40 jaar later, ondervind studente en ander inwoners steeds soortgelyke vervoeruitdagings indien hulle nie die trotse eienaars van ‘n motorvoertuig is nie en ‘n bietjie vinniger as te voet wil beweeg. Die nuwe mikromobiliteit-scooters blyk ‘n uitkoms te wees, ten spyte van ‘n gebrek aan wetgewing, regulasies en soms gesonde verstand, soos blyk uit die waarnemings van Meneer Sirkus.
Ek stem saam met Meneer Sirkus: “Die scooters is nie die sirkus nie.” Miskien is die probleem veel groter as “die gemiddelde Potchefstroomse student”.
Ongeveer 25% tot 30% van die beskikbare ruimte in ontwikkelde stedelike gebiede soos die Bult is opsy gesit vir paaie en parkeerplek vir motorvoertuie. Die blokkiespatroonuitleg van strate maak dit moontlik vir voertuie en hul gebruikers om letterlik oral te kom sonder enige probleme – behalwe natuurlik scooters, fietse en voetgangers.
Die spoedbeperking van 60 km/h op binnestedelike paaie is veel hoër as die gemiddelde 5 km/h vir voetgangers, 10 km/h vir fietsryers en die moontlike 25 km/h vir scooters. Minder as 30% van huishoudings in Suid-Afrika besit ‘n motorvoertuig.
Waarom word bykans al die beskikbare ruimte vir vervoerinfrastruktuur in ons dorp dan hoofsaaklik ontwerp en ontwikkel vir motorvoertuie? Natuurlik het fietse, voetgangers en miskien ook scooters ‘n plek binne die bestaande padreserwe. Daar is tog soms sypaadjies, soms padstrepe en soms padtekens om ander padgebruikers te help om van A na B te beweeg.

Die geboue in en om die Bult en kampus het die afgelope 40 jaar drasties verander. Ongelukkig het die padnetwerk en strate nie bygehou nie. Die motorvoertuiggebruiker is steeds die primêre, en soms enigste, kliënt, terwyl die res (die meerderheid) self plan moet maak met die ruimte tussen die teerpad en eiendomsgrense. Die wêreld is besig om te verander, en energiepryse, persoonlike veiligheid en nuwe denke oor mobiliteit maak verandering aan relevante infrastruktuur nie net moontlik nie, maar noodsaaklik.
Die skep van nuwe infrastruktuur, soos afsonderlike fietsbane weg van bestaande paaie en voetgangersones, is wel moontlik, maar uiters duur en kan jare neem om te implementeer. Die sluiting van sekere paaie vir motorverkeer is dalk te veel gevra. Kan bestaande paaie en vervoerinfrastruktuur nie dalk beter benut word nie?
Verander eerder die funksie van sekere strate en skep ‘n netwerk van spesifieke roetes waar motorvoertuie, fietse, voetgangers en scooters elk ‘n bepaalde mate van prioriteit geniet. Só ‘n verandering verg nie miljoene rande nie, kan eers deur ‘n toetsperiode gaan, bied ‘n geleentheid vir openbare insette, maak voorsiening vir laer spoed waar dit gepas is, verminder konflik tussen padgebruikers en kan algemene padveiligheid en luggehalte verbeter.
Sodoende kan ‘n stedelike omgewing geskep word waar mobiliteit en menslike aktiwiteite belangriker is as die wense van motorvoertuiggebruikers. Daar is meer as genoeg teer vir almal. Kom ons gebruik dit net oordeelkundig – tot die volgende sirkus weer kom.
*Hierdie leser het verkies om ‘n skuilnaam te gebruik.


