Luiperds en Sharks vat hande
Die Luiperds Rugby-unie het in hulle jaarvergadering verlede week aangekondig dat hulle ‘n nuwe ooreenkoms met die KwaZulu-Natal Sharks Rugby-unie gesluit het. Volgens die president van die Luiperds, adv. André May, gaan hierdie samewerking beide unies sowel as die NWU Puk Rugbyinstituut bevoordeel. “Ons gesprekke was baie positief en ek glo dat hierdie nuwe ooreenkoms …
Die Luiperds Rugby-unie het in hulle jaarvergadering verlede week aangekondig dat hulle ‘n nuwe ooreenkoms met die KwaZulu-Natal Sharks Rugby-unie gesluit het.
Volgens die president van die Luiperds, adv. André May, gaan hierdie samewerking beide unies sowel as die NWU Puk Rugbyinstituut bevoordeel.
“Ons gesprekke was baie positief en ek glo dat hierdie nuwe ooreenkoms ‘n baie positiewe uitwerking in die toekoms kan hê. Ons is baie opgewonde daaroor,” sê May. Gedurende 2005 het die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) ‘n konsessiemodel gebruik om te bepaal watter unies kwalifiseer vir Superrugby insluiting. In daardie stadium was die Luiperds en Pumas saam met die Goue Leeus deel van die Leeus se konsessie. Hierdie model kom egter tot ‘n einde aan die einde van 2015. Die gevolg was dat die Luiperds se deelname aan die Leeus konsessie dan ook aan die einde van 2016 tot ‘n einde kom.
Daar is vanjaar deur SARU besluit dat individuele unies, en nie meer konsessies, aan Superrugby sal deelneem.
Die regte is dan deur SARU aan die Blou Bulle, Goue Leeus, Vrystaat, Westelike Provinsie, Sharks en die OP Kings toegeken en is hierdie unies geregtig om ooreenkomste met enige van die ander kleiner unies te sluit, op die terme wat hulle mag ooreenkom.
“Nadat ons ander opsies ook oorweeg het, het ons besluit om ‘n ooreenkoms met die KwaZulu-Natal Sharks Rugby-unie te sluit.
Die ooreenkoms bestaan uit verskillende bene. Eerstens sien die Luiperds dit as ’n geleentheid om saam met Sharks spelers reeds op skoolvlak te kontrakteer, veral met die oog om hulle later deel van Rustenburg Impala Rugbyklub se Rugbyakademie te maak en later geleentheid te bied om as ambagsmanne opgelei te word, maar ook om hulle later geleentheid te bied om aan die NWU Puk te studeer,” verduidelik May.
“Dit is eenvoudig so dat dit makliker sal wees om die topspelers op Cravenweek na die Luiperds te lok as ons ‘n kontrak saam met ‘n top unie soos die Sharks kan aanbied.
Dan kan elke speler (en ook sy pa) mos besef dat daar geleentheid vir hom is om Superrugby te speel by die KwaZulu-Natal Sharks.
“Verder sal daar geleenthede geskep kan word vir van die Sharks se o.19- en o.21 spelers om Varsitybeker rugby te speel,” voeg hy by.
Volgens May strek hierdie ooreenkoms verder ook na senior rugbyvlak waar Sharksspelers wat nie gereeld Superrugby speel nie, dan vir die Luiperds sal kan kom speel op ‘n leenbasis.
Dit is ’n goeie manier om daardie spelers skerp te hou. Tyler Fisher is ’n voorbeeld van ‘n speler wat hierdie jaar deur die Sharks vrygestel is om by die Luiperds te speel. “Alle unies ervaar ‘n bottelnek wanneer hulle o.21 spelers vir senior rugby gekontrakteer moet word, aangesien daar net nie genoeg kontrakte beskikbaar is vir al die spelers wat klaarmaak met o.21 rugby nie,” sê May.
Die gevolg hiervan is dat verskeie van hierdie spelers dan nie verdere kontrakte aangebied word nie en dan veral vir die groter unies verlore raak, deurdat hierdie spelers na kleiner unies gaan of rugby vaarwel roep.
Die gedagte is dat die Luiperds ‘n deelkontrak saam met die Sharks met daardie belowende spelers (na hulle o.21 jaar) sal sluit met die gevolg dat hulle beskikbaar sal wees vir die Luiperds en hulle dan geleentheid gebied word om verder te ontwikkel.
Indien die Sharks verder weer in hulle belangstel, kan hulle dan weer terugkeer na die Sharks. Op hierdie manier sal die Luiperds die voordeel kry van hierdie spelers, selfs al is dit net op ‘n tydelike basis.
Die voormalige afrigter van die Luiperds, Robert du Preez, is tans by die Sharks se afrigtingspan betrokke terwyl die Luiperds, Rhyno Smith en Johan Deysel, tans in Durban oefen.
Buiten die effek wat hierdie ooreenkoms ten opsigte van spelers het, kan dit heel moontlik ook gedeelde borge en finansiële voordele vir die Luiperds inhou.
“Die Luiperds kan baat hierby en borge met die Sharks deel. Dit is vir ons belangrik om nuwe borge te kry en dit kan ’n groot hupstoot vir ons wees.”