Luiperds sal teen Haaie wil verbeter
Na ‘n liederlike loesing van 64-28 toegedien deur ‘n Leeus XV in die provinsiale liga, is die Luiperds nou derde laaste op die punteleer vir die spanne wat moet kwalifiseer vir die Curriebeker. Die boonste vyf spanne is: Griekwas 46, Pumas 41, Boland 40, Griffons 30 en SWD 26. Die Luiperds het 24 punte na …

Na ‘n liederlike loesing van 64-28 toegedien deur ‘n Leeus XV in die provinsiale liga, is die Luiperds nou derde laaste op die punteleer vir die spanne wat moet kwalifiseer vir die Curriebeker. Die boonste vyf spanne is: Griekwas 46, Pumas 41, Boland 40, Griffons 30 en SWD 26. Die Luiperds het 24 punte na net vier oorwinnings uit tien pogings.
Dit is moeilik om die geploeter van die Luiperds te verstaan. Die span beskik oor die dienste van die nasionale studente rugbykampioen en ook die afrigter wat die titel gewen het. Na die Noordweste van die provinsie toe is daar ‘n klub wat jaar na jaar uitstekend vaar in die nasionale liga vir nie-Universiteitspanne, die Impala rugbyklub. Daar is tans geen speler van die klub in die Luiperds se span nie.
Die boonste drie spanne het geen bekende universiteite nie en moet staatmaak op plaaslike spelers en enkele leenspelers.
In Vrydag se wedstryd het die Leeus tien drieë gaan druk en daar was sewe doelskoppe. Die Luiperds het die eerste drie gedruk, maar toe eers weer lewe getoon na die Leeus baie ver voor was (45-7) en die voet so effe van die pedaal gelig het. Nog drie drieë het in die periode gekom maar toe sit die besoekers weer die voet neer vir die laaste twee Leeus drieë. Die rustydtelling was 26-7 in die Leeus se guns.
Verlede seisoen het die Leeus die bepaling met 63-10 gewen in wat toe die Vodacom-kompetisie was.
Vir die statistici: Die Luiperds het hierdie seisoen 307 punte aangeteken (38 drieë) en daar is 364 punte teen hulle aangeteken wat 49 drieë insluit.
*Die Luiperds speel Vrydag om 15:00 by die Crusadersklub in Durban teen ‘n Haaie XV-tal.



