Gimmies en Volkies pak mekaar in rillerstryd hierdie Saterdag
Lente is vir baie Potchefstromers ‘n teken van ‘n nuwe seisoen en natuurlik ook die onvoorspelbare krieketkragmeting tussen Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom. Vanjaar se eerstespan-stryd tussen dié twee groot krieketskole in Potchefstroom, gaan weer die stad op hol hê hierdie Saterdag, 3 September wanneer Volkskool gasheer vir Gimmies speel. Die twee o.15-spanne speel …

Lente is vir baie Potchefstromers ‘n teken van ‘n nuwe seisoen en natuurlik ook die onvoorspelbare krieketkragmeting tussen Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom.
Vanjaar se eerstespan-stryd tussen dié twee groot krieketskole in Potchefstroom, gaan weer die stad op hol hê hierdie Saterdag, 3 September wanneer Volkskool gasheer vir Gimmies speel.
Die twee o.15-spanne speel Saterdag by die Gimmies Oval teen mekaar en dit gaan net so ‘n taai kragmeting wees.
Natuurlik sal die meeste aandag op die eerstespan-stryd gevestig word, veral omdat albei eerstespanne hierdie seisoen tot dusver onorwonne is.
Gimmies het sover hierdie seisoen oorwinnings teen Rustenburg met 167 lopies en Lichtenburg met vier paaltjies albei tuis gehad, wat deur ‘n kombinasie van goeie boul- en kolfwerk bewerkstellig is. In die wedstryd teen Rustenburg het Rinus Prinsloo met 80 lopies beïndruk, terwyl Jaco Schoeman ook ‘n vinnige 43 aangeteken het. Francois van Deventer blyk ook om ‘n gevaar met die bal te wees na sy 4/8 teen Rustenburg. Schoeman het in die tweede wedstryd van die seisoen teen Liggies weer sy naam met 70 dikgemaak.
Schoeman het juis goeie herinneringe van die laaste keer toe Volkies en Gimmies mekaar in die Noordwesfinaal aangesê het en hy ‘n onoorwonne 113 aangeteken het, sowel as die wenlopies met ‘n sierlike ses gemoker het.
Volkies het nou weer tuisvoordeel aan hulle kant en is nie verniet onder die top 20 skole in die land nie. Verder berei Volkies ook behoorlik voor met ‘n T20 wedstryd teen Helpmekaar vandag (Donderdag) sowel as ‘n 40 beurt wedstryd teen Maritzburg College Vrydag voor hulle Saterdag hulle groot plaaslike teenstander ontmoet. Volkies het self ook gemaklik vir Hoërskool Rustenburg met 109 lopies geklop nadat staatmakers soos Louis van Schalkwyk met die kolf en Cobus Crowther met die bal weer hulle uitsonderlike talente bewys het. Van Schalkwyk het ‘n onoorwonne 102 gemoker, terwyl Crowther se wegbreek draaiballe een te veel was om te ontsyfer en hy eindig met 4/26. Ruan von Abo en Vincent Viljoen is ook nog sleutelspelers vir Volkies in hulle kolforde wat nie veel verander het van verlede jaar se groep nie. Verlede jaar was Volkies baas in die ligabepaling wat by Gimmies plaasgevind het, met vier paaltjie oorwinnings. Die vraag is of Gimmies ook op hulle opponente se tuisveld kan wen. Een ding is seker, die span wat hierdie wedstryd wen, vat beslis ‘n stappie nader aan vanjaar se trofee.
Spanne:
Gimmies:
Herman de Jong (kaptein), Rinus Prinsloo, Anton Prinsloo, Emile Meijer, Jooste Fourie, Duan Jansen, Francois van Deventer, Jacques Botha, Divan Mienie, Marco Jansen, Vernon Charslund en Jaco Schoeman.
Volkies:
Ruan von Abo (kaptein), Vincent Viljoen, Martin Fourie, WL Fourie, Louis van Schalkwyk, Cobus Crowther, Herman Prinsloo, Robbie de Villiers, Awie Visser, Jacques Bouwer, André Taljaard.



