Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste en o.15A-krieketspanne het hul goeie vorm voortgesit en hul Noordvaal-kwartfinale teen Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen vandag (Saterdag, 24 Oktober) gemaklik gewen.
Albei spanne is nou net een tree nader aan hul doelwit om as Noordvaal-kampioene gekroon te word.
Volkies se eerste span het met ’n reuse-oorwinning van 222 lopies weggestap, terwyl die o.15A-span met agt paaltjies gewen het.

Die eerste span het 318 lopies aangeteken voordat hulle in 48.3 boulbeurte almal uitgeboul is. Ben Vorster kon daarna slegs 99 lopies in 26.3 boulbeurte aanteken voordat hulle almal uitgeboul is.
Die paaltjiewagter, Riekert Kruger, het ’n uitstekende 143 lopies van 148 balle aangeteken om die grondslag vir Volkies se telling te lê.
Ben Vorster se Rovoningo Chauke het met 5/29 uitgeblink.
Volkies se draaiers was, soos gewoonlik, die angel in hul teenstanders se kolfwerk. Olefa Padi het die wenpartyjie goed aan die gang gesit met syfers van 3/8, terwyl AW van der Merwe 3/34 geneem het. Johandré Jacobs het ook twee paaltjies vir 11 lopies platgetrek (2/11).
O.15A’s se boulers lê die grondslag

’n Gedissiplineerde boulvertoning het die grondslag vir Volkies se o.15A-span se oorwinning met agt paaltjies gelê. Hulle het Ben Vorster tot 157/9 in 50 boulbeurte beperk.
Juhan Nortje was Volkies se voorste bouler met syfers van 3/39.
Volkies het die teiken in minder as die helfte van die 50 boulbeurte gehaal en slegs 24.4 boulbeurte benodig.
Daniel Jacobs se kolf kook weer met ‘n 69* (77 balle). Jean Liebenberg 45* (42 balle) ondersteun vir Jacobs en die twee neem Volkies na ‘n gemaklike oorwinning.



