SportSport

Johan Claassen: Die Weste se lewende Springboklegende

Die oudste lewende Springbokkaptein, Johan Claassen, sit salig op sy rusbank en dink met ‘n koppie tee in sy hand. Op 87-jarige ouderdom onthou hierdie Potchefstromer nie meer alles nie, maar steeds kan jy die trots in sy stem hoor wanneer jy met hom oor sy lewenslange betrokkenheid by die Springbokke gesels. “Kyk, hierdie Springbokbaadjie …

Die oudste lewende Springbokkaptein, Johan Claassen, sit salig op sy rusbank en dink met ‘n koppie tee in sy hand. Op 87-jarige ouderdom onthou hierdie Potchefstromer nie meer alles nie, maar steeds kan jy die trots in sy stem hoor wanneer jy met hom oor sy lewenslange betrokkenheid by die Springbokke gesels.

“Kyk, hierdie Springbokbaadjie het ‘n lang geskiedenis. Dit was my eerste baadjie wat ek gekry het toe ek vir die Springbokke op Ellis Park teen die Britse Leeus in 1955 opgedraf het,” wys Claassen met sy kenmerkende vinger in die lug na die geraamde pragstuk.

In sy fleur was Claassen een van die wêreld se beste rugbyspelers en slotte wat groot agting by al sy teenstanders gehad het.

Vanaf 1955-1962 verteenwoordig hy die Springbokke in 28 toetse en word nie een keer uit die span gelaat nie. Hy het ook nege keer die span as kaptein met vermelding na vele bekende oorwinnings gelei. Verder het hy ook in 105 wedstryde vir Wes-Transvaal gespeel en was ook vanaf 1977-1998 president van die Wes-Transvaal Rugbyunie.

Geen Springbok kan met so ’n uitgerekte CV soos Claassen spog nie. Claassen het basies letterlik elke faset van Springbokrugby deurgegaan. Hy was nasionale keurder, junior visepresident, afrigter, kaptein en speler. Claassen het die Springbokspan van 1968-1976 afgerig en met ‘n skerp rugbybrein groot sukses behaal met 17 oorwinnings, drie gelykop uitslae en slegs ses nederlae.

Johan Claassen soos baie hom onthou, vinger in die lug. Hierdie spotprent beeld Claassen se dae as Springbokafrigter uit.
Tydens die 1981 Springboktoer na Nieu-Seeland was Claassen ook deel van die ervaringe.

Een van die merkwaardigste oomblikke in Claassen se rugbyloopbaan was toe hy tydens ‘n toer van Australië en Nieu-Seeland in 1956 sy neus gebreek het en benewens die pyn met ‘n neus-skerm die toetse klaar gespeel het.

“Teen die All Blacks het ek my neus gebreek. Die neus van my was baie lelik gewees en ek moes maar deurdruk. My neus het darem nie te skeef aangegroei nie,” vertel Claassen koddig.

“Ek het al my toetse as slot gespeel en in verskillende dele van die wêreld getoer. Dit was goeie herinneringe. Die eerste toets wat ek gespeel het was in Johannesburg. Ek was baie trots op daardie eerste wedstryd. Jare later het ek ‘n spesiale gedenkboek van die Britse en Ierse Leeus ook ontvang wat steeds een van my kosbaarste besittings is,” onthou hy.

Johan Claassen word van die veld gedra na nog 'n oorwinning as Springbokkaptein.

Wat nog vir Claassen juis uitgestaan het was toe hy in ‘n wit trui vir die Springbokke kon uitdraf, wat net toegeken was aan spelers wat teen spanne sou speel wat ook groen sou aanhê.

“Min spelers het wit truie in daardie jare gedra. Net een maal ‘n jaar sou ons wit truie dra,” noem hy.

Claassen is wel van mening dat daar te veel rugby gespeel word en dat rugby anders as in sy speeldae is.

“Deesdae is die rugby nie meer so vloeiend soos in my jare nie. Daar is passie vir die spel wat nie daar is nie. Dit is heeltemal ander rugby wat ek gespeel het. Geld speel ‘n baie groot rol deesdae.”

Johan Claassen het ook baie jare by die Puk spandeer.

Claassen het ook groot spore by Pukke rugby getrap en as hoof van die Puk Sportburo opgetree.

“Ek was ook lank by Pukke se rugbyklub as speler en afrigter betrokke en dit was goeie rugbydae,” sluit Claassen af.

Met ‘n laaste ferm handdruk wat talle lynstaanballe gegryp het, staar Claassen hierdie joernalis reguit in die oë en dadelik voel jy die trots en respek wat talle ander rugbylegendes van praat. Hy is inderdaad so solied soos kan kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button