Gimmies Premierkrieketliga gaan een vir die boeke wees hierdie komende week
Krieketkoors tref Potchefstroom Gimnasium komende Maandag 7 Augustus wanneer die heel eerste bal by die Gimmies Premier T20 krieketliga op die Gimmie-Oval afgevuur gaan word. Hierdie toernooi gaan interessant wees in die sin dat net Gimmies spelers teen mekaar gaan speel om te sien wie die beker huis toe sal vat. Dié toernooi volg ‘n …
Krieketkoors tref Potchefstroom Gimnasium komende Maandag 7 Augustus wanneer die heel eerste bal by die Gimmies Premier T20 krieketliga op die Gimmie-Oval afgevuur gaan word.
Hierdie toernooi gaan interessant wees in die sin dat net Gimmies spelers teen mekaar gaan speel om te sien wie die beker huis toe sal vat. Dié toernooi volg ‘n IPL T20 formaat in ‘n sin dat vier geborgde spanne, naamlik die Ankers, Pikke, Grawe en Blues teen mekaar sake gaan uitspook.

Gimmies se top kriekettalent maak dan hierdie spanne vol, met elke span wat uit twee matrieks, vier junior spelers en ses graad 10-11 spelers bestaan.
Vier voormalige Gimmie krieketspelers, Ruan Haasbroek (Ankers), Lourén Steenkamp (Blues), Driaan Weyers (Grawe) en Erik Wyma (Pikke) gaan ook as afrigters en spelers optree.
“Die lekker ding hier is dat elke “Old Boy” dan een beurt het wat hulle kan kolf of boul vir hulle span. Die ander Old Boy moet dan kolf of boul teen hom. Bygesê, word elke lopie dan met twee gemaal, wat dit baie interessant gaan maak,” vertel die organiseerder van die Gimmie Krieket Feesweek, Wian Lubbe. Volgens Lubbe bied hierdie toernooi ‘n goeie geleentheid vir Gimmies om wedstrydvoorbereiding te kry voor die Noordwesliga afskop. Verder bou dit ook lekker spangees met juniors en seniors wat saam in spanne speel.

“Die ouens kan baie leer in hierdie formaat en dit is goed vir samesyn in die spanne. Die idee is om ‘n lekker atmosfeer ook te skep met musiek en tradisie by die krieketspelers te kweek. Dit is ‘n eerste vir Noordwes om so ‘n toernooi aan te bied. Ons nooi Potchefstromers uit om die krieketaksie saam met ons te geniet,” het Lubbe entoesiasties genoem.
Wedstryde vind van Maandag tot Donderdag plaas met die wedstryde wat Maandag en Dinsdag om 14:30 begin en Woensdag op Vrouedag al vanaf 08:30 aan die gang sal wees. Leon van Onselen, RJ Irrigation, Goodknight Bedding en Kobus Pienaar is die borge wat hierdie toernooi moontlik maak.



