Volkies se krieketspelers maak naam by nasionale o.15-week
Twee van Volkies se top aanvangskolwers, sowel as die veelsydige John van Wyk het tydens die afgelope Krieket Suid-Afrika (KSA) o.15-nasionale krieketweek wat vanaf 7 tot 11 Desember in Stellenbosch gehou is, vir Noordwes uitgeblink en die provinsie se naam hoog gehou. Niel Jansen van Vuuren en Waldo Kemp het met hulle kolfwerk bewys dat …
Twee van Volkies se top aanvangskolwers, sowel as die veelsydige John van Wyk het tydens die afgelope Krieket Suid-Afrika (KSA) o.15-nasionale krieketweek wat vanaf 7 tot 11 Desember in Stellenbosch gehou is, vir Noordwes uitgeblink en die provinsie se naam hoog gehou.
Niel Jansen van Vuuren en Waldo Kemp het met hulle kolfwerk bewys dat hulle lopiemakers van formaat is, met Jansen van Vuuren wat teen Mpumalanga en Kemp teen Boland met ‘n speler van die wedstryd-vertoning die oë laat rek het.
Noordwes begin hulle week teen Boland in ‘n verkorte wedstryd wat in 10 beurte beslis is. Boland kolf eerste en behaal 53/6 met NW wat die teiken oorsteek met 5 paaltjies staande. Kemp slaan hier ‘n onoorwonne 26.
In Noordwes se tweede wedstryd van die week op die Markotter veld, klop hulle vir SWD in tydkrieket weens die eerste kolfbeurt reël. Jansen van Vuuren teken ‘n broodnodige 47 (116) aan op ‘n moeilike kolfblad waar NW 175 almal uit aanteken. SWD verkrummel onder die druk en maak slegs 67, met Charl Naudé wat 3/18 neem. Volkies se Corné Prinsloo neem ook hier ‘n paaltjie om met syfers van 1/14 te eindig.
In die tweede beurt teken NW 38/4 aan en kon weens tyd net SWD tot op 67/1 beperk tot die lig te swak raak en NW ‘n belangrike oorwinning vat.
Jansen van Vuuren het vanjaar ‘n absolute puik jaar met die kolf in sy hand en teen Mpumalanga in die tweede tydkrieketstryd die afgelope Sondag slaan hy ‘n 78 om die fondasie te lê. NW maak hier 234/7 in 65 boulbeurte. Mpumalanga maak 135/6 in hulle beurt en die wedstryd eindig onbeslis.
Teen die Vrystaat val Noordwes wel vas en is die eerste keer aan die verloorkant met 92 lopies. John van Wyk van Volkies neem 3/22 met die rooikersie in sy hand en beperk die Vrystaters tot 171/9 in 50 boulbeurte. ‘n Power kolfvertoning is NW se voorland en hulle is almal uit vir 79 – tyd om weer na die witbord te gaan loer.
John van Wyk het toe beslis sy hand opgesteek met ‘n broodnodige 63* om Noordwes na ‘n drie paaltjie oorwinning in hulle laaste eendag wedstryd teen KwaZulu-Natal te lei. Nadat Noordwes vir Natal vir 160 uitgeknikker het danksy ‘n puik 3/25 van Corné Prinsloo, was NW in die moeilikheid op 68/7. Van Wyk tesame met Naudé 23 (84) het stelselmatig nader aan die teiken beweeg en toe uiteindelik die wenlopies in die laaste boulbeurt aangeteken.



