Potchefstroom-swemklub is NW se beste
Die Potchefstroom-swemklub pronk trots op die wenpodium na die afgelope Noordwes swemkampioenskappe wat van 6 tot 9 Desember in Potchefstroom gehou is. Blitsige swemmers van die Potchefstroom-swemklub het drie individuele byeenkomsrekords laat spat en ’n totaal van 112 medaljes (waarvan 44 goud, 39 silwer en 29 brons) verower. Hierdie swemklub se uitmuntende spanpoging het duidelik …
Die Potchefstroom-swemklub pronk trots op die wenpodium na die afgelope Noordwes swemkampioenskappe wat van 6 tot 9 Desember in Potchefstroom gehou is.
Blitsige swemmers van die Potchefstroom-swemklub het drie individuele byeenkomsrekords laat spat en ’n totaal van 112 medaljes (waarvan 44 goud, 39 silwer en 29 brons) verower. Hierdie swemklub se uitmuntende spanpoging het duidelik uit die aflosse geblyk, aangesien die aflosspanne van die Potchefstroom-swemklub ses goue, een silwer en drie bronsmedaljes verower het. Prestasies soos dié van die Potchefstroom-swemmers het die klub kop en skouers bo die 13 ander swemklubs in die Noordwes-Provinsie laat uitstaan.
Die Potchefstroom-swemklub is verdienstelik as die swemkampioene van die provinsie aangewys.
Die afrigter, Marike van Oort, sê sy is baie trots op elke individuele swemmer van die swemklub se puik prestasie. “Hulle het getrou geoefen, hard gewerk, saamgewerk en almal het baie goeie tye geswem.”
Die kampioenswemklub se pragtige prestasies sluit onder meer in:
Bianca Opperman, die provinsiale rekordbreker in die 50m-borsslag en 100m-borsslag, het vyf goue en twee silwermedaljes losgeswem.
Die blitsvinnige Chazél Orton het ’n byeenkomsrekord in die 200m-rugslag laat spat en met elf goue, een silwer en twee bronsmedaljes weggestap. Wian Bartleman het sewe goue en een silwermedalje verower en Pieter-Jacq du Toit vyf goue, drie silwer en twee bronsmedaljes.
Scarlett Botes spog met vyf goue, twee silwer en twee bronsmedaljes en Ewald Bartleman met vier goue, een silwer en drie bronsmedaljes.
Theo Ferreira is die ontvanger van een goue, twee silwer en drie bronsmedaljes en William-Stephen Slaughter ontvang een goue, een silwer en een bronsmedalje.
Joël Kriek was in sy skik met een goue, drie silwer en drie bronsmedaljes.
Nog medalje-wenner is Alexia Delicado met een goue en nie minder as agt silwermedaljes nie.
Idelé du Toit verower een goue, ses silwer en een bronsmedalje en Janco Bartleman stap weg met vier silwer en twee bronsmedaljes.
Michael Barnardo en John-Thomas Botha spog elkeen met een silwermedalje.
Die bloedjong Irma Kotzé (slegs 7 jaar oud) het een goue en twee silwermedaljes losgeswem en haar suster René een silwer en twee bronsmedaljes. Victor Scheepers (ook slegs 7 jaar oud) staan breëbors met sy twee goue en een bronsmedalje.
Nina Slaughter het ’n silwermedalje en Tumé van Niekerk het drie bronsmedaljes ontvang. Aiden Nel spog met twee bronsmedaljes.






