SportSport

Pampoenboere en Tigers gaan mekaar hierdie Saterdag aanvat

Die eindstryd vind op die PMSC se Johann du Randt-stadion plaas met die wedstryd wat om 16:00 sal afskop.

‘n Historiese gebeurtenis vind hierdie Saterdag, 8 Junie tussen twee van Potchefstroom se trotsste rugbyklubs plaas. Die Pampoenboere van die Potchefstroom Landboukollege gaan die Potch Tigers Defence Rugbyklub aanvat in die Luiperds Reserweliga-finaal – die eerste keer dat hierdie twee spanne vir die beker in dié liga speel. Die eindstryd vind op die PMSC se Johann du Randt-stadion plaas met die wedstryd wat om 16:00 sal afskop.

Die Pampoenboere het die eindstryd gehaal met ‘n oortuigende 45-7 oorwinning teen NWU-Mafikeng, terwyl die Potch Tigers Defence vir Matlosana met 23-14 in die ander half-eindstryd geklop het. Potch Tigers Defence is ‘n samesmelting tussen die Weermag Rugbyklub en die Potch Tigers wat in Promosa geleë is.

Albei spanne is slaggereed vir hierdie stryd Saterdag en beloof opwindende rugby wat skares sal laat jubel en juig.
Vir Gerald McPherson, die afrigter van die Pampoenboere, is hierdie juis ‘n interessante stryd aangesien hy al by albei klubs betrokke was.

“Ek is nou al vier jaar afrigter by die Pampoene en ek het 22 jaar gelede self teen die Pampoenboere gespeel. Verder was ek as speler en afrigter ook deel van die Potch Tigers-span,” noem McPherson, wat nou saam met sy seun, Curtley McPherson, die Pampoenboere afrig.

Volgens Michael Thorne, president van Potch Tigers Defence, is hierdie ‘n geskiedkundige oomblik tussen twee Potch klubs.
“Beide spanne is gereed vir hierdie wedstryd en ek weet dit gaan ‘n groot dag wees,” het Thorne gesê, wat al sedert die klub se bestaan in 1983 betrokke is.

Schalk Gagiano, kaptein van die Pampoenboere, is ook oortuig dat sy span die beker sal vat en talle oud-Pampoene sal trots maak.

“Ons is goed voorbereid vir die finaal en ons wil na ‘n lekker seisoen sover, ons beste gee. Dit is ‘n groot geleentheid om geskiedenis vir die Pampoenboere te maak,” noem hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button