SportSport

Karli Beukes trap na NW bergfietsry sukses

“My mikpunt is om steeds die Noordwesspan te haal, maar dit gaan bietjie moeiliker wees die jaar in die Spur-reeks omdat ek in ‘n nuwe groep is en as graad 11 teen matrieks gaan ry."

Ondersteuning is een van die belangrikste elemente in enige sportster se sukses.
Dit is iets wat die 16-jarige Noordwes kampioen bergfietsryer van Hoërskool Ferdinand Postma, Karli Beukes, in oorvloed het.
Haar oudste boetie, Johan, is so te sê haar eie afrigter, werktuigkundige en een van haar grootste ondersteuners. Haar pa Paul neem gereeld foto’s van haar tydens wedrenne en tesame met ma Petro en jongste boetie Wiehan, ondersteun die gesin haar op enige manier wat hulle kan.

Dit was juis Johan wat begin fietsry het, wat Karli se aandag begin prikkel het. Kort voor lank was sy ook op ‘n fiets en het aan ‘n paar laerskoolwedrenne deelgeneem.

Nou is sy ‘n Noordweskampioen (sub-jeug) vir die tweede keer in ‘n ry en mik sy na groter hoogtes in die sport.

“Ek geniet bergfietsry verskriklik baie. Ek het vanjaar eintlik stadig begin in die Spur Skolereeks omdat ek my sleutelbeen vroeër die jaar gebreek het, en toe ook aan netbal vir Ferdies deelgeneem het.”

Sodoende het ek die eerste paar wedrenne gemis. Ek het toe die laaste twee wedrenne in Klerksdorp en Koedoeslaagte (Parys) gewen en my punte was so dat ek toe die algehele wenner was,” vertel sy.

By die Spur Skolereeks SA finale het sy ‘n 7de en 14de plek behaal en al was sy bietjie teleurgesteld met die uitslae, weet sy dat sy baie geleer het en net by volgende jaar se SA’s kan verbeter.

Karli ry tans met ‘n Silverback bergfiets en het ook onlangs ‘n padfiets aangeskaf met die doel om aan ‘n paar padfietswedrenne ook deel te neem.

“Ek sal aan padfietswedrenne wil deelneem om te kyk hoe dit gaan, maar ek verkies steeds bergfietsry.
Daar is iets wat net anders is. Maar vir nou fokus ek op akademie tot die einde van die jaar,” glimlag Karli, nadat sy vroeër die oggend ‘n chemie-vraestel geskryf het.

“Ek sou sê een aspek wat baie van Karli se fietsry verbeter het, is haar tegniese vaardighede.
“Dit help haar ook om dan vinniger te ry op die baan. Sy is iemand wat bereid is om altyd te wil verbeter en sy gee nie op nie,” noem haar trotse boetie en regterhand, Johan.

Vir die komende jaar sal Karli graag ‘n paar nuwe uitdaging wil aanpak.

“My mikpunt is om steeds die Noordwesspan te haal, maar dit gaan bietjie moeiliker wees die jaar in die Spur-reeks omdat ek in ‘n nuwe groep is en as graad 11 teen matrieks gaan ry.
“Ek sal ook myself by ‘n paar SA Cup-reeks wedrenne wil toets.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button