
Klubrugby is vanaf 1 Mei weer in volle swang. Potchefstroom Dorp Rugbyklub is slaggereed vir die Neser- en Reserweligas. Onder die afrigting van Johan “Joe” Smith (Varsitybekerwenner) sowel as die voormalige Springbok sewesspeler, Leslie Jackson, kan Potch Dorp se eerstespan seker wees dat hulle in goeie hande is.

Tydens die proewe wat op 15 April plaasgevind het, het 120 geregistreerde spelers hulle talente ten toon gestel. Die vraag sal wees wie deel gaan wees van die gereelde 23-tal spelers wanneer die eerste wedstryde op 8 Mei in die Neserliga begin.
Potch Dorp kom eerste teen Ikageng in ‘n tuiswedstryd te staan, voordat hulle op 15 Mei teen Westonaria in ‘n wegwedstryd sal speel. Saterdag, 22 Mei is die Stilfontein Hurricanes in Potchefstroom vir ‘n kookwaterstryd.
Daarna volg Potch Dorp se gedugte bure, Klerksdorp in ‘n moeilike wegwedstryd op 29 Mei, voordat die Potchefstromers hulle ligabepalings teen Hartbeesfontein op 5 Junie in ‘n tuiswedstryd eindig. 
Die halfeindstryde sal op 12 Junie plaasvind en die eindstryd op 28 Junie. Die Reserweliga is kleiner klubs in Noordwes, maar kleiner beteken nie noodwendig swakker nie. Potch Dorp se tweede span begin op 1 Mei teen die Landboukollege se Pampoene in hierdie liga.
Potch Dorp se tweede span speel tuis teen Harmony op 8 Mei, weg teen Kloof op 15 Mei en weer tuis op 22 Mei teen Driefontein, voordat hulle sake in die ligafase teen Klerksdorp Rugbyklub op 29 Mei eindig. Die Neser- en Jaap Steyn-liga val vanjaar saam in een liga waar die top vier spanne in die gesamentlike liga sal uitspeel vir die gesogte Neser en die volgende vier spanne sal uitspeel vir die Jaap Steyn.
Die klub het ook in ‘n mediaverklaring genoem dat Covid-19 ‘n realiteit is en dat hulle die publiek aanmoedig om sosiale afstand toe te pas. Volgens nasionale wetgewing en SARU, sowel as die Luiperds se regulasies, kan geen toeskouers ongelukkig nog die wedstryde bywoon nie.
“Ons as ‘n klub wil vanjaar graag rugby speel om die manne die kans te gee om hulle dorp te verteenwoordig en moontlik op ‘n hoër vlak te presteer. “So graag soos ons wil hê mense moet ons kom ondersteun, word dit ongelukkig nie toegelaat deur Nasionale Wetgewing en Covid Regulasies en SARU en die Luiperds Rugbyunie nie. “Hou asseblief ons Facebook- en Instagram-blaaie dop vir meer inligting oor wedstryde en resultate in die volgende 12 weke.”



