SportSport

Voormalige Blitzbok wil sy stempel as afrigter by Potch Dorp afdruk

Jackson se CV as speler is indrukwekkend en as afrigter glo hy dat hy al sy ervaring wil teruggee en ‘n verskil maak in die manne se rugbyloopbane.

Potchefstroom Dorp Rugbyklub se eerstespan kan vanjaar op nog ‘n skerp rugbybrein reken om hulle na bekerglorie te lei.

Leslie Jackson, ‘n voormalige SA Sewes-speler, gaan as hulpafrigter saam met die voormalige Varsitybekerwenner en Pro 14-speler, Joe Smith, vir Dorp in die Neserliga brei. Hierdie kombinasie behoort net goeie dinge vir die tradisieryke klub in te hou wat ‘n talentvolle groep spelers vir die nuwe seisoen betrek het.

Leslie Jackson is gereed om sy kennis by Potch Dorp oor te dra. Foto: Wouter Pienaar

Jackson se CV as speler is indrukwekkend en as afrigter glo hy dat hy al sy ervaring wil teruggee en ‘n verskil maak in die manne se rugbyloopbane. Jackson het vanaf 2003-2006 die groen en goud vir die Blitzbokke gedra en in ses toernooie uitgedraf. Hy het SA ook by die 2005 Sewes Wêreldbeker in Hong Kong verteenwoordig en saam met bekende name soos Mzwandile Stick, Fabian Juries, Marius Schoeman, Jonathan Mokuena en Renfred Dazel gespeel.

Jackson se rugbyroete het hom later na afrigting toe genoop waar hy in 2017 ook die Back to Basics Sportakademie gestig het. Hier is rugby en lewensvaardighede geleer waar veral kinders uit plaaslike gemeenskappe die geleentheid gekry het om ‘n liefde vir sport te ontwikkel.

Leslie Jackson in sy dae as Springbok Sewes-speler. Foto: Verskaf.

Hy het ook by plaaslike skole in die Mosselbaai en Hartenbos-area gehelp om ‘n liefde vir sport te kweek, voordat hy verlede jaar Potchefstroom toe getrek het. “Ek het ‘n groot passie vir afrigting en om kennis veral aan die jonger generasie oor te dra. Ek rig ook tans by Laerskool ML Fick by die o.10 en o.11 spanne af. My twee seuns is ook daar op skool,” vertel Jackson.

Jackson se groot taak vanjaar is om Potchefstroom Dorp Rugbyklub suksesvolle rugby te laat speel en die Neserliga vir die eerste keer sedert 2013 te verower.

Leslie Jackson is gereed om as hulpafrigter by Potchefstroom Dorp Rugbyklub die span na groter hoogtes te lei. Foto: Wouter Pienaar

“Die eerste paar weke het ons op basiese vaardighede gefokus, aangesien al die spelers lanklaas behoorlik rugby gespeel het. Ek voel vanjaar begin al die spanne ook op dieselfde vlak en die span wat die fiksste, is sal ‘n groot voordeel hê,” meen hy.

Potch Dorp speel hulle eerste wedstryd in die 2021 Neserliga teen Ikageng in ‘n tuiswedstryd en Jackson en kie sal graag die seisoen op ‘n hoë noot wil afskop.

“Ons sien baie uit na die nuwe seisoen. Die manne is honger en gereed om te speel en die geleentheid te gebruik om naam te maak en raakgesien te word. Daar is baie geleenthede vir die ouens en as hulle goeie rugby speel, is hulle kanse soveel groter om vir die Luiperds in aanmerking te kom,” verduidelik Jackson.

Vir Jackson gaan afrigting daaroor om ‘n verskil in ‘n speler se lewe te maak en geleenthede te skep. “Dit is vir my lekker om te sien hoe spelers vorder en verbeter, of hulle nou op skoolvlak van ‘n tweede- na ‘n eerste span beweeg, of van klubrugby na provinsiale rugby. As spelers my bedank as hulle iets geleer het, is dit ook baie bevredigend.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button