Die Neserliga halfeindstryde is hierdie Saterdag, 12 Junie op die spyskaart wanneer Potchefstroom Dorp Rugbyklub en Ikageng Rugby Development Club vir ‘n plek in die eindstryd teen twee groot kanonne, Lichtenburg en Zeerust, in smullekker tweestryde te staan sal kom.
Potch Dorp en Ikageng het albei die top twee plekke in poel B beklee, met Ikageng wat met 19 punte in die eerste plek en Dorp tweede met 18 punte eindig.
Ikageng is een van die groot verrassings in vanjaar se Neserliga. Hulle het Klerksdorp Rugbyklub verlede naweek met 23-21 geklop om hulle plek in die halfeind-rondte teen Lichtenburg in ‘n tuiswedstryd op Olenpark te verseker.
“Ons spelers is baie gemotiveerd en toegewyd. Dit het ‘n rol gespeel dat ons die half-eindstryd behaal het,” noem Ikageng se hoofafrigter en voorsitter, Euboy Mampangashe. 
Ikageng se kaptein, Chumani Dalasile het sover sy span puik gelei met agterspelers soos Lithamsanqa Kwanto en Nkanyiso Doyi wat gate in die opposisie kan hardloop. Potch Dorp sal na Zeerust reis om teen die wenner van poel A te staan te kom.
Potch Dorp het nou weer hulle plek in die halfeindrondte bevestig toe Hartbeesfontein weens ‘n gebrek aan spelers nie die kragmeting kon meemaak nie. Potch Dorp het toe die nodige punte gekry om te kwalifiseer. Volgens Potchefstroom Dorp se hoofafrigter, Joe Smith, is sy span gereed vir die stryd aangesien ‘n paar spelers terugkeer van beserings en ook genoeg ruskans gekry het.
“Een van ons ster spelers vanjaar, Standley Jacobs, is nog uit met ‘n besering. “Hy sal verseker gemis word in die lynstane en verdedigingslyn. Danie (van der Merwe) ons skrumskakel is terug van Namibie af, wat vir ons ‘n groot pluspunt is. Victer Vlok (linkervleuel) het ook herstel na sy enkelbesering en sal weer op die veld gesien word,” noem Smith.
“Dit was van die begin af ons doel om die semi-finaal te haal en ons is nou een wedstryd weg van die finaal af. Geleenthede sal gebruik moet word as dit daar is Saterdag.
“Elke speler en afrigter het ingekoop vir die volgende drie weke om hul beste te gee vir die span,” meen Smith. As Potch Dorp en Ikageng albei hulle half-eindstryde wen, sal die eindstryd ‘n herhaling van die poelwedstryd tussen dié twee spanne wees. Potch Dorp het toe met 50-32 geseëvier. 



