Sy is terug. Sy anders, dit is nie dieselfde Liezel Gouws nie. Japan het haar verander. Dit het sowat 100km weg van die skadu van Berg Fuji en sy sneeu-gesoende kroon gebeur.
Wysheid en ervaring is ingeboender, verruil vir elke druppel sweet wat van haar afgetap het. Liezel (23) het onlangs by die Paralimpiese Spele in Tokio, Japan vyfde in die 400m T37-finaal geëindig. Dit was die boorling van Klerksdorp en student van die Noordwes-Universiteit se tweede Paralimpiese Spele. ![]()
“Dit was rêrig ’n groot ervaring en ek moes myself heeltyd herinner om oomblikke vas te vang, soos om net op die stadion te sit en vir ander atlete te kyk. Ek moes myself ook herinner dat, maak nie saak hoe dit met my prestasies gaan nie, dat ek myself daar gekry het. Om net in die Olimpiese Village te wees, is ʼn belewenis wat mens nie rêrig kan beskryf nie. Om in die blokke langs die wêreld se beste atlete te sak… om te besef daar is nie ʼn hoër vlak as hierdie nie, dit is net iets om voor dankbaar te wees,” vertel sy.

En dan is daar die lesse wat geleer was.
“Dit was ʼn groot uitdaging om geestelik sterk te bly vir die twee weke wat ons daar was. Daar is maar baie druk en, ja, om te weet jy het so lank geoefen vir iets en jy het net hierdie een geleentheid om jou beste te gee. Daar was maar tye wat ek begin stres het.”
Dit is tydens hierdie tye wanner haar eie deursettingsvermoë asook ʼn vangnet of twee haar lewenslyn was.
“Ek is rêrig dankbaar vir die span wat agter my gestaan het. My afrigter Sean Bownes en sy leiding, vir Anuschka van der Merwe. Sy was soos my geeslike afrigter die afgelope tyd. Al die boodskappe van vriende en familie. Die inwoners van Klerksdorp en Potchefstroom wat my net bemoedig het.”
Haar kamermaat, Louzanne Coetzee, het haarself dubbel en dwars bewys deur ʼn silwer- bronsmedalje in te palm. Dit tesame met haar mede lede van Span Suid-Afrika was vir haar inspirerend verduidelik sy wat self inspireer. Hartseer was daar ook. Na afloop van die 200m was sy gediskwalifiseer nadat sy om die draai uitgetrap het. Tog, dit was steeds haar beste 200m-tyd.
“Dit was ʼn reis van ses jaar se gesukkel om by daardie tyd uit te kom. Ek is baie trots daarop.”
Haar 400m-tyd was haar naasbeste ooit.

“ʼn Vyfde plek in ʼn finaal teen die wêreld se bestes is meer as wat ek kon voor vra.” En, voeg sy by, dit was ook lekker om haar land te kon verteenwoordig. “Om my universiteit te kon verteenwoordig.” Sy lag soos sy terugdink. Soveel om te onthou. Die lag bring dit terug.
“Die mense van Japan is die vriendelikste nasie wat ek in my lewe ontmoet het. Van die bereidwilligers wat gehelp het tot die mense wat met plakkate langs sypaadjies gestaan het om ons aan te moedig. Dit maak mens se hart baie warm. Die organisering van die byeenkoms kon nie beter gewees het nie.”
Haar voorbereiding vir die 2022 Wêreldkampioenskappe is ook reeds onderweg.
“Op hierdie oomblik kyk ek net vorentoe. Dit voel of ek nuwe motivering gekry het om net nog harder te werk. Ek is definitief nie klaar nie. Ek sal definitief, as dit die Here se wil is, aan nog ʼn Spele of twee wil deelneem. Ek is nog jonk en ek is nou eers op die ouderdom wanneer mens kompeterend begin deelneem.”
Sy weet hierdie want sy is anders. Japan het haar verander. Wyser en sterker as ooit.




