‘Meester’.
Dit is ‘n titel wat vir min beskore is. Top van die top, beste van die beste. Wanneer ‘n beroep ‘n roeping word en daarna tot ‘n kuns verwerk word. Terseus Liebenberg val gewis in dié kategorie.
Oor meer as drie dekades het sy kennis en vernuf talent gevat en tot wêreldsterre vervorm.
In die onlangse 2021-2022 SA Atletiekjaarboek, ‘n publikasie van die SA Atletiekstatistici (SAAS), is Liebenberg as die Voorste Afrigter van die Hertoelatings-era deur die sportliggaam se uitvoerende komitee aangewys.
“Sjoe, dit is ‘n geweldige eer. Ek is nederig dankbaar. Hierdie toekenning is ‘n groot motivering vir my. Dit is brandstof vir my afrigtingsvuur. Daar is soveel goeie afrigters wat benoem is soos Martin Marx wat Hestrie Cloete afgerig en tannie Ans Botha. Hulle is rêrig fenomenale afrigters,” sê Liebenberg.
Volgens SAAS was dit ‘n nabye resies tussen Liebenberg en Ans Botha, wat as die primêre afrigtingkrag agter Wayde van Niekerk se sukses beskryf word. Hoewel Van Niekerk as Suid-Afrika se beste atleet ooit beskryf word, het Liebenberg vir ‘n konstante stroom kampioene gesorg.
Dit sluit in Marius Corbett wat in 1997 die Wêreldkampioenskap in Athene, Griekeland gewen het, asook die Statebondspele en Afrikakampioenskap in 1998. Dan is daar Sunette Viljoen wat silwer by die Olimpiese Spele in 2016 by Rio de Janeiro ingepalm het. Sy spog ook met twee Statebondspele- en vyf Afrikakampioenskap-titels. Haar lys prestasies kan ‘n woordeboek vul. Nóg ‘n Afrikakampioen, Justine Robbeson, het genoeg medaljes ingepalm om ‘n boot te laat sink, Tazmin Brits is een van die land se bestes nog en tans is Jo-Ané van Dyk, Waldouw Smit en Johann Grobler besig om die wêreld aan die brand te gooi.
“Ek is dankbaar vir al die atlete wat op my pad gekom het. Ek is tans baie opgewonde oor wat Jo-Ané, Waldouw en Johann gaan bereik. Elkeen is ‘n juweel en dit is ‘n voorreg om hulle af te rig.”
Sy afrigtingsfilosofie behels sweet, sweet en nogmaals sweet.
“Daar is geen kortpaaie vir sukses nie, net eerlike, harde werk. Elke atleet is ‘n individu en moet as ‘n individu hanteer word as mens hulle tot hul volle potensiaal wil help ontwikkel. Ek glo in goeie verhoudings met my atlete, daar is ‘n wedersydse respek vir mekaar.”
En podiums, medaljes, toekennings en louere wat nie ophou vloei nie.



