Koshuisliga lewer taai, klipharde Rugby
Dit was 'n spreekwoordelike slagveld, gisteraand (3 Augustus) toe die Eersteliga se koshuise mekaar na 'n lang breek weer tussen die witlyne aangevat het.

Dit was ‘n spreekwoordelike slagveld, gisteraand (3 Augustus) toe die Eersteliga se koshuise mekaar na ‘n lang breek weer tussen die witlyne aangevat het.
Die spanne sal vinnig moet planne en regstellings maak aangesien daar weer Vrydagaand (5 Augustus) nog ‘n rondte se wedstryde gespeel gaan word. Na die harde wedstryde van Woensdagaand sal daar ‘n paar name dalk op die krukkelys wees.
Overs het met 15 -3 oor De Wilgers geseëvier.
“Die wedstryd was soos wat ons verwag het kliphard, die manne het hart gewys en hulle lywe op die lyn gesit,” het Lourens Janse van Rensburg, hoofafrigter van De Wilgers gesê.
Volgens Gerald Sutton, hoofafrigter van Overs, het De Wilgers ‘n groot pak voorspelers wat baie fisies is.
“Ek dink die draaipunt vir ons was toe daar so vier minute voor halftyd ‘n onderbreking as gevolg van ‘n besering was. Ons kon toe ‘n boodskap deurkry na die spelers toe dat ons fisies moet opstaan teen hulle. Vandaar was dit ons skrum, ons het goeie fases aanmekaar gesit, fisies geraak en gaan druk, toe is dit halftyd. Vandaar het die wedstryd so stelselmatig begin draai,” het Sutton gesê.
Die wedstryd tussen Caput en Patria was ‘n spreekwoordelike uitputtingsoorlog. Albei spanne het soos soldate in loopgrawe hulle stukkies aarde beskerm.
Caput het uiteindelik die stryd 12 -8 gewen.
Volgens Henry Stewart, hoofafrigter van Caput, het Patria se aanslag die veggees van Caput na vore gebring.
“Hulle het ons met tye met hulle opskiet verdediging onder druk geplaas. Ons het dit goed absorbeer en met ons eie verdediging die druk omgekeer. Ons lynstane was skitterend gewees en die werksverigting by die afbreekpunte het dinge vir Patria moeilik gemaak. Ek is baie trots op die span en die veggees wat hulle gewys het,” verduidelik Stewart.
As ‘n kleiner koshuis is Caput as die Dawid en Patria, die spreekwoordelike Goliat in dié wedstryd beskou. Waar Dawid slegs een klippie nodig gehad het om die reus te laat tuimel moes Caput al die klippies in hulle slinger gebruik om Patria te stuit.
Volgens Garan Kriek, hoofafrigter van Patria was dit ‘n baie goeie wedstryd.
“Ons verdediging was baie goed gewees ongelukkig het ons dissipline ons op die ou einde gekos. Ons het bloot te veel strafskoppe afgestaan,” het Kriek gesê.
Veritas het hulle wedstryd teen Heimat met 40 – 17 gewen, tog is albei afrigters dit eens dat die telling nie ‘n ware weerspieëling van die wedstryd was nie.
“Dit was baie taaier as wat die telling wys. Heimat was tot na halftyd nog 17 – 7 voor gewees. Ons ouens was baie gelduldig en het vir geleenthede in die tweede helfte gewag , waarna ons regtig ons geleenthede om punte te kry goed gebruik het. Heimat was goed, nou is dit Caput. Dit is ‘n grote, een wat ons graag wil wen,” het Stefan van Vuuren, hoofafrigter van Veritas gesê.
“Ek kan niks weg vat van Veritas af nie, hulle het baie goed gespeel. Tog was dit frustrerend om te sien hoe ons foute maak wat hulle dan gebruik het om punte aan te teken. Dit was ‘n baie nader wedstryd as wat die telling wys,” het Ivan van der Sandt, hoofafrigter van Heimat gesê.
Heimat kan dalk die druk begin voel na ‘n tweede verloor na mekaar in die kompetisie. Volgens Van der Sandt, kom daar maar altyd bietjie druk na ‘n verloor. “Ek het geen twyfel dat ons goed genoeg is nie. Ons speel goeie Rugby, maar mens leer ook uit ‘n verloor uit. Jy kan nie 17 – 7 voorloop en dan die wedstryd verloor nie. Dit wys nie dat jy swak speel nie,” het Van der Sandt gesê.
Villagers het met 47 – 15 teen die NWU se o/19A span vasgeval.
“Ek is trots op die ouens. Om 15 punte teen ‘n universiteitspan te kry is glad nie sleg nie,” het Gerhard Ackerman, hoofafrigter van Villagers gesê.
Jean Tiedt, hoofafrigter van die NWU se o/19A span het by navraag gesê hy is baie trots op die spelers.
“Daar is nog baie werk. Ons het geleenthede geskep en nie afgerond nie. Maar ons word beter en dit is belangrik,” het Tiedt gesê.
Die volgende rondte wedstryde vind Vrydag (5 Augustus) plaas. Die spanne gaan vinnig hulle wonde moet lek, hulle oorwinnings vergeet en na die volgende wedtryd moet kyk.
Vir al die bepalings van Vrydagaand se wedstryde en die nuutste plaaslike rugbynuus besoek gerus
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-rugby-hub/



