Wessies klop moedige Gimmies
Die weerlig het die program heelwat vertraag, maar dit het beslis nie die wedstryd gedemp nie.
Gimmies het gistermiddag Klerksdorp toe gereis, om Wesvalia in hulle tweede rondte van die NWU reeks aan te pak.
Daar was bietjie ekstra spogregte op die spel, met dié twee skole se hoofde wat broers is. Willie van der Merwe by Gimmies en sy jonger broer Lourens van Wesvalia. Op die dag het die jonger, korter broer nie aan die kortste ent getrek nie
Alhoewel hulle 28 – 12 die knieg moes buig, was dit ‘n goeie wedstryd vir die ondersteuners op die pawiljoen.
Die weerlig het die program heelwat vertraag, maar dit het beslis nie die wedstryd gedemp nie. Gimmies het in die wedstryd in gekom as die buiteperd, maar het hulleself goed van hulle taak gekwyt. Hulle het van die begin van die wedstryd die Klerksdorpers fisies aangevat, en met durf verdedig.
In die begin stadiums van die wedstryd sou Wesvalia reken dat hulle, hulle eie grootste vyande was. Die Bruin bere het gesukkel om die laaste aangee weg te kry. Hulle het op die veilige skopskoen van hulle losskakel, Eddie Dreyer, staat gemaak om in die eerste helfte punte op die bord te kry.
Gimmies het op hulle beurt van die vaste fasette af aangeval. Wessies het hulle vir meeste van die helfte gestuit, maar Gimmies se binnesenter, Elrich Bosch het ‘n goeie lyn gehardloop om te gaan druk.
Met die halftyd telling 7 – 6 in die Potchefstromers se guns was die wedstryd nog in die weegskaal. Dreyer het vroeg in die tweede helfte nog ‘n strafskop deur die pale gejaag waarna Wesvalia se rolmaal vir hulle afgekom het. Na dié drie, was die Klerksdorpers se sterte op, met minder foute deur die hande gaan druk hulle weer.
Gimmies het aanhou veg, en is kort voor die einde van die wedstryd met ‘n drie van hulle eie beloon. Die Klerksdorpers het dadelik terug geslaan om die laaste sê te hê.
Volgens Regardt Kleingeld, direkteur van Rugby by Gimmies, het Wesvalia se meer ervare spelers die wedstryd gedraai.
“Ervaring het ‘n rol gespeel, van ons outjies wat nog onervare in sleutelposisies het dalk nie die regte besluite geneem nie. Maar waarvan ek gehou het, is dat die ouens nooit gaan lê nie. Hulle het aanhou speel, ons onervare ouens het geleer uit die wedstryd uit,” het hy gesê.
Volgens Kleingeld is hy gelukkig met die vaste fasette en fisiekheid waarmee sy span gespeel het.
“Ons het geweet hulle gaan baie hard vir ons kom. Ons het op kritieke tye te veel foute gemaak waar ons eintlik punte moes gekry het. Selfs met al ons foute het ons ‘n goeie oorwinning gekry, nou kyk ons na die volgende uitdaging,” het Willem Van der Sandt, Wesvalia se Direkteur van Rugby gesê.
Gimmies speel weer Saterdag teen Die Anker in Brakpan, terwyl Wesvalia moet Brits toe reis om vir Wagpos te gaan aanvat.



