Plaaslike kunstenaars stal weer saam uit
Verby ingeboks is die tema van die kunsuitstalling wat Dinsdagaand (20 April) by die Snowflake-gebou geopen het. Die Potchefstroom Kunsvereniging het na ‘n jaar van inperking besluit om weer ‘n kunsuitstalling aan te bied wat in eie ruimte aanskou kan word.

Terwyl die meeste galerye steeds digitale uitstallings hou, was kunstenaars van Potchefstroom gereed om weer saam uit te stal en na ‘n lang stilte weer kontak met mekaar en met die kunspubliek te maak. ‘n Feestelike atmosfeer het geheers toe mense weer soos van ouds, maar met maskers, met mekaar kon kommunikeer.

Die uitstalling bestaan uit kunswerke wat almal dieselfde grootte is (24cm x 24cm) en sinspeel op die feit dat kunstenaars se kreatiwiteit nie ingeperk word met die grootte van die werke nie. Die opdrag vir dié uitstalling was dat werke presies dieselfde grootte moes wees. Kunstenaars kon in enige styl werk en kon enige tema en medium kies. Die uitstalling se eenheid lê dus in die grootte van elke werk.

Die uitstalling het verrassende werke met uitstekende tegniek en interessante mediums opgelewer. Hier kan jy ‘n baie goeie werk teen ‘n spotgoedkoop prys aanskaf.
Die uitstalling kan tydens die openingsure van die koffiewinkel by Snowflake op Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydae van 7:00-19:00 besigtig word. Woensdae is die openignsure 7:00-17:00 en Saterdae van 9:00-19:00. Die uitstalling duur tot 31 Mei.