Fietsrygemeenskap vat hande en help fietsryer

“Ek het nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ek was en steeds is nie," merk William Schoeman op nadat die fietsrygemeenskap en besighede meer as R 55 000 ingesamel het om hom te help.

William Schoeman, ‘n inwoner van Potchefstroom en kranige fietsryer, was ‘n paar weke gelede in ‘n ernstige fietsry-ongeluk waartydens hy sy sleutelbeen gebreek en bloeding op die brein opgedoen het.

William sou aanvanklik nie ‘n operasie benodig het nie, maar het later uitgevind dat sy sleutelbeen, wat hy tydens die ongeluk gebreek het, gedurende ‘n operasie geheg moet word.

Ruan Smith en van die ander fietsryers het ‘n plan gemaak om geld bymekaar te kry sodat William die operasie in ‘n privaat hospitaal onder die vaardige hand van dr. Jonker kon ondergaan. “Ons het die oggend van 16 April om 05:00 by CycloDNA gaan ‘kick’, en van die fietsryers wat die dag van die ongeluk in die ryspan was, was die oggend ook hier,” sê Ruan. Hy noem dat al hierdie fietsryers die dag van die ongeluk aan hom gesê het dat hul bereid is om geld by te dra, sou dit gebeur dat William operasies moes ondergaan. Ruan vertel dat hy met die fietsryers gesels het oor wat hulle te doen staan.

“Ons het toe net na 06:00 daardie oggend ‘n WhatsApp groepie gestig en almal ‘n ‘admin’ gemaak sodat almal op hul beurt nog mense toegang tot die groep kon verleen. “Die oggend teen 08:00 se kant het my vrou vir my ‘n boodskap getik wat inligting bevat het oor William se operasie en hoeveel geld hy sou benodig om die operasie te kon ondergaan. Ek het die boodskap toe op die groep geplaas.”

Ruan vertel dat hul aanvanklik gedink het dat William tussen R35 000 en R45 000 sou benodig, maar dat hy net na 8:30 ‘n kwitasie gekry het en dat dit meer as R55 000 sou kos. Ruan het dit toe op die groep geplaas, tesame ‘n rekeningnommer en gewag om te sien wat verder sou gebeur. “In ‘n kwessie van minder as 12 ure het ons R55 021,12 ingesamel, asook nog ekstra geld vir medikasie.” Ruan voeg by dat die fietsrygemeenskap baie mooi bymekaar gekom het om een van hul eie lede te ondersteun. “Almal het hande gevat en laat waai.”

“Besighede wat William baie goed ken het ook gehelp. William se ma het ook gehelp. Almal het hul harte oopgemaak en regtig mildelik gegee om ons te help.” Ruan bedank almal wat saamgekom het om William te ondersteun. “Ons wil dr. Jonker en sy span ook bedank vir wat hul vir ons gedoen het en hoe hul ons tegemoet gekom het.”

William is net so dankbaar. “Van my kant af sal ek net graag wil dankie sê vir almal se bydraes, gebede, belangstelling en besoeke. Dit beteken vir my regtig baie. “Ek het nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ek was en steeds is nie.” William bedank ook Potchefstroom Hospitaal en Mooimed Hospitaal vir hul mediese dienste aan hom en weer eens vir dr. Jonker vir die operasie en mediese behandeling. William noem dat dit baie goed gaan met hom en dat hy net effense ongemak verduur aangesien hy glad nie sy arm kan beweeg nie.

Related Articles

 
Back to top button