Liggaam van vermiste kleuter in rivier opgespoor
Die kleuter het volgens sy familie naby die rivier gespeel.
‘n Kleuter (2) wat Donderdag, 19 Desember in die Noordwes vermis geraak het nadat hy in ‘n veld naby ‘n rivier gespeel het, se liggaam is Vrydag, 20 Desember in die rivier gekry.
Arthur Crewe, NSRI-Hartbeespoortdam se stasiebevelvoerder, sê hulle is Vrydagoggend 04:00 deur die polisie ontbied om deel te neem aan ‘n soektog vir die vermiste kleuter wat reeds laat Dondermiddagmiddag geloods is.
Die kleuter het volgens sy familie naby die rivier gespeel en het nie weer teruggekeer huis toe nie. NSRI-reddingswemmers en Strategic Rescue Unit het by verskeie polisie-eenhede en Tshwane-nooddienseenhede aangesluit.
Die volskaalse soektog met behulp van ‘n polisie-helikopter het voortgegaan totdat die liggaam van die kleuter opgespoor en deur polisieduikers uit die rivier gehaal is.
Die liggaam van die kind is in die sorg van die polisie en staatsgesondheid se forensiese patologiedienste geneem.
Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.



