BirdLife Wesvaal se “Show and Tell”-aand inspireer voëlkykers van alle ouderdomme
Die uiteenlopende ouderdomme van die sprekers het bewys dat voëlkyk 'n stokperdjie is wat mense van alle ouderdomme bymekaarbring.
Voëlkykers van vyf tot 83 jaar oud het hul passie, kennis en besondere ervarings tydens BirdLife Wesvaal se maandelikse klubbyeenkoms op 8 Oktober gedeel.
Die byeenkoms was die tweede geleentheid van die gewilde Show and Tell-reeks, waartydens nege gassprekers die geleentheid gekry het om hul stories, foto’s en video’s met medelede te deel.
Die uiteenlopende ouderdomme van die sprekers het bewys dat voëlkyk ‘n stokperdjie is wat mense van alle ouderdomme bymekaarbring.
‘n Spesiale woord van waardering is aan die drie jong sprekers, Loxley Curlewis, Cai en Jannus Brace, gerig vir hul kundige en puik aanbiedings.
Die nege aanbiedings het ‘n verskeidenheid interessante voëlervarings en waarnemings ingesluit.

William en Sophie Deale se verhaal oor ‘n Indiese Myna wat drie Gevlekte Koekoekkuikens in Mabalingwe voer, is deur Lawren Oelofse aangebied.
Rita Marais het foto’s gewys wat die kenmerkende gesigspatrone van Rooibekkwêla’s uitgelig het, terwyl Loxley Curlewis sy voëlfoto’s in Afrikaans en Engels geïdentifiseer en die name van die spesies gedeel het.
Jannie Erasmus het vertel en gewys hoe ‘n Berghaan versigtig aan sy prooi gevreet het, terwyl hy deur ‘n Monnikaasvoël en later ‘n Roofarend gepla is.
Corrie Venter het foto’s en video’s gedeel oor haar terugkeer na aktiewe voëlkyk in Potchefstroom ná baie jare. Sy het dié ervaring saam met Lucia du Preez, ‘n voormalige voorsitter en bekende figuur van BirdLife Wesvaal, herleef.
Die broers Cai en Jannus Brace het om die beurt in Afrikaans en Engels vertel van besondere voëlspesies wat hulle tydens vakansies afgeneem het.
Tommie Drinkwater het verduidelik hoe hy sy vakansies gebruik om by sy kinders te kuier, terwyl hy terselfdertyd na skaars voëlspesies soek, dit aanteken en foto’s daarvan neem.
Willie Victor het van sy ervarings in Gryskoppie vertel en van sy besonderse voëlfoto’s gewys. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om op die regte tyd op die regte plek te wees wanneer jy voëls wil afneem.
Fanie Coetzee het foto’s van Visarende wat paar, gedeel, asook die televisie-insetsel wat op die program 50/50 uitgesaai is. Hy het sy aanbieding op ‘n besondere noot afgesluit met panfluitmusiek, vergesel van ‘n pragtige video en foto’s van ‘n Drietoonstrandloper-familie by Struisbaai.

BirdLife Wesvaal het al nege gassprekers bedank vir hul bydraes. Dank is ook uitgespreek teenoor Lawren Oelofse, wat gesorg het dat al die PowerPoint-aanbiedings vlot vertoon is.
Soos gebruiklik is die klublede ook Donderdagaand met heerlike verversings bederf, waarvoor die lede wat dit voorberei het, bedank is.
Die aand het die teenwoordiges geïnspireer om self meer foto’s te neem, hul ervarings en stories neer te skryf en dit tydens volgende jaar se klubbyeenkoms met ander lede te kom deel.
Foto’s van die klubbyeenkoms, asook enkele foto’s uit die nege gassprekers se aanbiedings, is gedeel. BirdLife Wesvaal het erkenning en dank uitgespreek teenoor die fotograwe, wat almal lede van die klub is.



