Ou Vans bied Battle of the DJ’s aan
Die bestuur van Ou Vans Pub and Grill is opsoek na die volgende langarm DJ koning/ koningin en bied die Randfontein gemeenskap die kans om hul talente ten toon te stel en ter selfde tyd groot pryse los te slaan.
Volgens die organiseerder van Ou Vans se Battle of the DJ’s kompetisie, Corrie Nortjé, kan enige DJ vir die kompetisie inskryf. Sy vertel dat diegene wat belangstel eers gekeur moet word.
“Uit die inskrywings sal ons as bestuur die top 16 DJ’s kies om teen mekaar mee te ding in ‘n kompetisie wat oor agt weke sal strek,” vertel Corrie.
Eerste in sy soort in Randfontein, sal dié kompetisie op 6 Julie om 7nm by Ou Vans afskop wanneer die eerste twee DJ’s teen mekaar te staan sal kom. Corrie verduidelik dat die DJ’s se sukses aan die gehoor se betrokkenheid gemeet sal word.
Dus sal die DJ die gehoor vir so lank as moontlik op die dansvloer moet hou.
“Daar sal dan vir agt weke elke Saterdag twee DJ’s by Ou Vans teen mekaar kragte meet.
“Na afloop van dié agt weke sal die top agt na die semi-finaal toe deurdring. Die top twee kandidate sal dan na afloop van dié vier weke sake teen mekaar uitspook,” vertel Corrie.
Die wenner van die kompetisie sal wegstap met ‘n kontant prys van R5 000.
Ou Vans nooi die hele gemeenskap om elke Saterdag die DJ’s te kom ondersteun en hul gunsteling te help om deur te dring na die volgende rondte.
Toegang beloop R10 per persoon.
“Ons het ook talle borge soos die Suid-Afrikaanse Brouery, Distel, Rembrandt, Dykes van Heerden prokureurs en Corries Eiendomme wat by die kompetisie betrokke is. Daarom sal die weeklikse wenner ook met ‘n prys wegloop,” vertel Corrie.
Sy vertel verder dat die DJ’s ook betaal sal word vir die aand wat hulle optree.
Vir meer inligting rondom die kompetisie skakel gerus vir Corrie by 083 266 3250.