Weerwet kry wind van voor
Afriforum doen 'n beroep op die gemeenskap om die Wysigingswet tee te staan.

“Dit lyk asof die regering nou die weer ook wil nasionaliseer,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum gesê.
Ingevolge artikel 30(A) van die Wysigingswetsontwerp is dit ‘n oortreding om ‘n waarskuwing oor uiterste weersomstandighede of lugbesoedeling sonder die nodige skriftelike toestemming van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) uit te reik.
‘n Vonnis van tot R10 miljoen of 10 jaar gevangenisstraf kan vir so ‘n oortreding opgelê word.
“Indien dié wetgewing toegepas word, kan dit ernstige gevolge inhou. Wanneer daar na kumulatiewe omgewingsrampe gekyk word, hetsy dit ‘n tornado of ‘n gifgaspyp is wat bars, is die tydsberekening van ontruiming noodsaaklik om die impak te beperk en te bestuur en sodoende ‘n ramp te voorkom.”
AfriForum is van mening dat die meeste mense in 2012 in Hoedspruit se oorstromings gered is deur die gemeenskap se kommunikasie.
“Die meeste van ons land se rampe hou met die weer verband. Dit sal ‘n tragedie wees as burgers die reg ontsê word om hul gemeenskappe te waarsku,” vertel Kleynhans.
“Dit is egter belangrik dat die publiek weerwaarskuwings van ‘n betroubare bron kry en dat valse of misleidende waarskuwings nie gemaak word wat tot paniek of beserings kan lei nie. Die wet moet aangepas word sodat daar slegs opgetree kan word teen diegene wat misleidende waarskuwings maak.”
“Omgewingsmoniteringsprogramme en -bestuurstelsels sal nie doeltreffend wees indien hierdie wetsontwerp goedgekeur word nie. Wat as die Weerdienste nie hul telefoon antwoord nie of jy nie ‘n faks ontvang nie?”
“Die gevolg van hierdie klousule is dat die SAWD nie aanspreeklik gehou kan word as dit nie sy werk behoorlik doen nie. Gevolglik kan diegene wat verantwoordelik is vir ‘n mensgemaakte omgewingsramp nie daarvoor aanspreeklik gehou word nie. Dit geld ook vir gevalle waar verliese weens die Weerdiens se versuim sou plaasvind,” verduidelik Kleynhans.
AfriForum het verlede jaar kommentaar oor die voorgestelde Wysigingswetsontwerp van die SAWD aan die portefeuljekomitee vir water- en omgewingsake voorgelê. Die burgerregte-organisasie is gekant teen die wetsontwerp, omdat dit ‘n hoë risiko vir die samelewing inhou en landsburgers se vryheid van spraak sal inperk.
Sluit aan by AfriForum om hierdie en ander kwessies in ons gemeenskappe aan te pak. SMS jou dorp se naam na 31336. SMS kostes beloop 50c per SMS.