Tannie Lizzie word 97
Lizzie le Roux mag dalk al byna 'n eeu oud wees, maar met haar gesondheid skort daar niks nie.

‘n Inwoner van die Renaissance Tuiste vir bejaardes, Lizzie le Roux, het onglangs haar 97ste verjaarsdag saam met haar vriende en familie gevier.
Volgens Lizzie was dit vir haar vreeslik lekker om dié geleentheid saam met haar geliefdes te spandeer en sien daarna uit om weer met haar volgende verjaarsdag saam met al haar vriende te kuier.
Alhoewel baie bejaardes nie dié merkwaardige ouderdom behaal nie, is Lizzie steeds volstoom in die huis besig en vertel dat sy graag in die oggend gaan stap.
“Ek stap elke oggend deur die hele perseel en groet almal wat ek teekom.
“Dit is vir my lekker om in die oggende te gaan stap, maar ek het myself belowe dat ek nooit weer sonder grimering sal gaan stap nie.
“Ek wil immers altyd op my beste lyk,” vertel Lizzie met ‘n glimlag.
Almal by Renaissance Bejaarde Oord ken vir Lizzie as die oord se moeder, aangesien sy die oudste inwoner van die oord is.
Lizzie is ook bekend daarvoor om pragtig te bid, en bid altyd die Here se seën op haar mede inwoners en hul omstandighede af.
“Op dié ouderdom wil die oë nie meer so lekker samwerk nie, maar ek is gelukkig met puik gesondheid geseën en geniet elke dag saam met my geliefdes,” vertel Lizzie ten slotte.