Nuwe kerk open sy deure vir die gemeenskap
Pastoor Hannes Pieterse en sy vrou, Christa, doen nou God se werk by hul nuutgestigde gemeente in Hillside.
Pastoor Hannes Pieterse en sy vrou Christa is trots om te vertel dat hulle ‘n nuwe kerk vir die werk van God in Randfontein geopen het.
Volgens Hannes het die Emmanuel Pinkster Kerk op 19 Mei sy deure vir die gemeenskap oopgemaak en sedertdien van krag tot krag gegroei.
“Ons nuwe kerk is op Plot 152 in Campbellweg, Hillside en het tans sowat 35 gemeentelede,” vertel Hannes trots.
Hannes is op 12 Januarie 2013 amptelik as pastoor georden en doen nou God se werk met oorgawe.
“Ons visie vir die gemeente is om met die liefde van God vir mense om te gee en om siele terug te wen vir die Here se Koninkryk op aarde,” vertel Hannes.
“Daarom nooi ons elkeen in die gemeenskap wat opreg God se naam wil vereer om ons eredienste by te woon.”
Die kerk se eredienste begin elke Sondag om 9vm.
“Die Sondagskoolleerlinge kom reeds om 8.30vm bymekaar en ons jeuggroep kom op Vrydae-aande om 7nm bymekaar,” vertel Hannes.
Verder vertel Hannes dat die gemeente ook ‘n hulppastoor en jeugpastoor het. Cobus van Tonder het die rol as hulppastoor aanvaar en Bella Krog behartig die jeugaktiwiteite en berading.
Die gemeente het ook hul eie teologiese skool wat deur pastoor Hannes en Cobus bestuur en aangebied word. DiƩ teologiese skool word op elke eerste Saterdag van die maand aangebied.
“Alle lof en eer kom Koning Jesus toe. Hy is in beheer en sonder Hom sou ons nooit die kerk kon stig nie,” vertel Hannes.
Vir verdere inligting rondom die Emmanuel Aanbidding Sentrum en hul werk, skakel gerus vir pastoor Hannes by 073 493 9338 of vir Christa by 083 464 1009.