ATKV bied toneelfees aan
Die ATKV nooi Randfontein om te kom deel in die pret tydens vanjaar se toneelfees.
Die Afrikaanse Taal en Kultuurvereeninging (ATKV) bied op 26 Julie weer ‘n groot toneelfees by Hoërskool Jan Viljoen aan en nooi die gemeenskap om dié geleentheid saam met hulle te kom geniet.
Volgens ‘n verteenwoordiger van die ATKV, Chrisna Grobler, sal die geleentheid om 3nm afskop en beloof dit om elkeen te laat skaterlag en selfs ‘n traan te laat pik.
“Kom lag tot jy lê en kom pik ‘n traan saam met die ses verskillende toneelstukke wat op die planke te sien sal wees.
“Kom ondersteun die deelnemers van Kimberley, Toekomsrus, Sasolburg, Pretoria en natuurlik Randfontein,” vertel Chrisna.
Bekendes soos Nadia Beukes, Tina Kruger en Belinda Parkin sal die beoordelaars tydens die geleentheid wees.
“Hierdie is ‘n fees sonder grense vir die alledaagse mense van jonk en oud.
“Ons doel is om tydens en deur hierdie fees die wonderlike wêreld van Afrikaanse toneel bekend te stel.
“Dus moedig ons die Jan-Alleman aan om dit te kom ondersteun.
“Hierdie fees het geen ouderdomsbeperking nie en is geskik vir die hele familie,” vertel Chrisna.
Kaartjies vir die fees beloop R20 per volwassene en R10 vir skoolleerlinge en kinders.
Vir verdere navrae, kontak gerus vir Chrisna Grobler by 083 703 2608 of per epos by chrisnagrobler1@gmail.com.



