Kunstenaar verfilm haar nuwe musiekvideo in Randfontein
Nuwe Afrikaanse sangsensasie, Jasmyn, verfilm haar nuwe musiekvideo in Randfontein.
Die nuwe sangsensasie, Jasmyn, het onglangs die musiekvideo vir haar nuwe treffer, ‘Hier binne my’, in Randfontein kom verfilm.
Die geleentheid was ‘n groot sukses en sowaar ‘n hoogtepunt in Jasmyn se loopbaan.
Die geleentheid het op 22 Julie in Mercedes Straat, Aureus, plaasgevind en belowe ‘n opskudding in die Afrikaanse musiekbedryf.
Die musiekvideo se konseptualisering, regie en choreografie is deur Ferdinand Gernandt behartig en uitgevoer deur ‘n span professionele dansers wat tans in die Andrew Lloyd Webber produksie ‘Starlight Express’ by die Nelson Mandela Teater, in Braamfontein te sien is.
Dansers vir ‘Hier binne my’ sluit selfs vir Xola Willie, ‘n begaafde danser wat binnekort Frankryk toe gaan en Michelle Lane, van Engeland, Stefania du Toit en Jarryd Nurden in.
Ferdinand was ook die choreograaf van die gewilde Pretville fliek wat onlangs weggestap het met die Tempo toekenning vir beste Afrikaanse film van die jaar.
Met soveel talent op een stel is dié video beslis iets om na uit te sien.
‘Hier binne my’ is deur Jasmyn geskryf en getoonset op haar tweede album ‘Agt keer opstaan’.
Die CD word deur Vonk Musiek uitgegee en is beskikbaar in alle toonaangewende musiekwinkels.
Dit is ‘n liedjie wat op verskeie bekende radiostasies speel en veral op radio Tygerberg groot aanvraag geniet het.
Die verwerking is modern en die liedjie is besig om vlerke te kry.
Jasmyn vertel dat haar doel met die liedjie is om mense daar buite op te bou en te versterk.
Paul Kruger van Hartwood Films, het die vinnige danspassies in asemrowende stadige-aksie bewegings omskep.
Beligting is gedoen deur Johan Ferreira en Henrè Bornman wat bygedra het tot die skep van illusie en hoendervleis-atmosferiese tonele.
Redigering word gedoen deur VPH Films in samewerking met Ferdinandt Gernandt.
“Ons bedank almal wat deel gehad het aan die verfilming van dié video asook vir almal van die Randfontein gemeenskap wat dié inisiatief verwelkom het,” vertel Jasmyn.



