Biblioteek vier ‘n taal sonder grense
Westonaria Biblioteek vier Afrikaans as 'n taal sonder grense.
Afrikaans het behoorlik gegons toe daar verlede week in die keurigste Afrikaans gekuier is in Westonaria tydens ‘n gesamentlike program van NB Uitgewers, die Onderwysdepartement en Westonaria Biblioteek en Inligtingsdienste.
NB Uitgewers het in samewerking met Biblioteek- en Inligtingsdienste vir Westonaria ‘n ope uitnodiging aan 12 skole aan die Wesrand gerig waarin leerlinge voorgeskrewe fiksie vir Afrikaans Tweede Taal moes resenseer.
Dit het jeugromans soos Anna Atoom en die seerower se dolk deur Elizabeth Wasserman, Willem Poprok deur Derrick van der Walt asook Vlis met Vlerke deur Annemarie Coetser ingesluit.
Ten spyte van die feit dat slegs Hoërskool Westonaria die uitnodiging aanvaar en aan die program deelgeneem het was Henk Viljoen, Streeksverkoopbestuurder vir NB Uitgewers, baie gelukkig met die terugvoering wat ontvang is.
Volgens hom was die gesprekke wat hy met die leerlinge van Hoërskool Westonaria oor die Afrikaanse letterkunde gehad het insiggewend en dit was ook opmerklik dat die leerlinge opreg in hul aanbiedings was.
Henk het gesê hy sien daarna uit om op ‘n meer gereelde basis soortgelyke lessprojekte aan te pak.
In ‘n onlangse bespreking oor die toekoms van Afrikaans op ‘n radiostasie het ‘n graad 7-leerling dit die beste opgesom deur te sê dat Afrikaans nie ‘n vervaldatum het nie.
Die groepie leerlinge van Hoërskool Westonaria het beslis bevestig dat Afrikaans lewend is en ‘n tuiste vir almal bied. Hulle is ook elk beloon vir hulle harde werk met ‘n Pharos Afrikaans-Engelse Kern-woordeboek ter waarde van R500 deur NB Uitgewers.
Volgens Program Bibliotekaris, Righardt le Roux, is daar beslis aanduidings dat die taal onder nie-tradisioneel-Afrikaanssprekendes gedy.
“Dit is verbasend om die passie te sien waarmee dié leerlinge oor en in Afrikaans kan praat en dit is beslis ‘n pluimpie vir die Afrikaanse Departement van Hoërskool Westonaria,” vertel Righardt.
In die lig van die Onderwys Departement se versoek vir nouer samewerking met Biblioteke- en Inligtingsdienste is dit inderdaad jammer dat slegs een skool positief op hierdie insisiatief reageer het hopelik sal daar in die toekoms beter ondersteuning vanaf skole wees om die tipe bemagtigingsprogramme by te woon.



