Nadine bestem vir ‘n roemryke loopbaan
Plaaslike sanger, Nadine Myburg, is vasbeslote om Sondagsterre te wen en af te skop met 'n roemryke sangloopbaan.
Randfontein se eie superster, Nadine Myburgh, sing al reeds van kindsbeen af en droom steeds om ‘n roemryke sangloopbaan na te jaag.
Volgens Nadine het haar liefde vir sing al reeds op die ouderdom van 7-jaar vlam gevat. Sedertdien het sy al aan verskeie groot sangkompetisies deelgeneem en selfs haar merk op die Nasionale Eisteddfod (NEA) gemaak.
Sy vertel dat sy gedurende 2010 die toekenning vir die beste senior prestasie by die NEA ontvang het. Sy was ook in die NEA Top 10 aan die Wes-Rand streek.
“Ek het gedurende 2011 weer die toekenning vir beste senior prestasie ontvang en was ook in die Top 4 beste presteerders aan die Wes-Rand,” vertel Nadine.
Verder het die plaaslike sangeres aan Suppersterre en Klipdrift Idols deelgeneem.
Sy is tans opgeneem in die Top 20 vir Sondagsterre en doen ‘n beroep op die gemeenskap om vir haar te stem om sodoende dié gesogte titel te wen.
Sy vertel dat as deel van hul bemarkingsveldtog vir Sondagsterre, het hulle verskeie optredes wat hulle moet bywoon. Die optredes sluit ‘n optrde by Gigtyd – Boksburg, Droogeheuwel en selfs ‘n optrede op Dozi se plaas in.
Behalwe vir die feit dat Nadine aan soveel sangkompetisies deelneem, het sy ook al die voorreg gehad om voorskou optredes vir kunstenaars soos Kurt Darren te doen.
Die gemeenskap kan gerus na haar YouTube videos gaan kyk en haar ook op Facbook volg.
“Ek wou nog altyd ‘n bekende sangeres word, met Sondagsterre is die droom nou binne my bereik. Daarom doen ek ‘n beroep op die gemeenskap om vir my te stem. SMS net ‘ster015’ na 34261 om vir my te stem. SMS lyne sluit op 29 Augustus,” vertel Nadine.



