Local newsNews

ATKV spog met suksesvolle toneelfees

Die ATKV is trots op die groot sukses wat hul toneelfees in Randfontein geniet.

Die Toneelfees Sonder Grense was inderdaad sonder grense – gemeenskapsteater op sy beste, aangebied op 26 Julie deur die ATKV-Randfonteintak by Hoërskool Jan Viljoen.

Die doel van dié toneelfees is om die breër gemeenskap aan die wonderlike wêreld van Afrikaanse toneel bekend te stel en ook om vir Jan Alleman aan te moedig om deel te neem.

Hoërskool Sasolburg is beloon met ‘n spesiale toekenning vir uitsonderlike stelinkleding, rekwisiete, grimering en kostuums vir ‘Die Teeparty’.

Hulle het R1 000 prysgeld ontvang.

Dié skool het ook die toekenning vir beste aktrise in ‘n ondersteunende rol in die toneelstuk, ‘Genade’, ontvang.

Hoërskool Die Wilgers is in die derde plek aangewys met ‘Die Sound of Boeremusiek’ en het ‘n R2 000 kontantprys ontvang. Dié toneelgroep het ook weggestap met die toekennings vir beste akteur, beste aktrise, beste akteur in ‘n ondersteunenede rol, asook beste ensemblewerk. Beslis ‘n welverdiende prestasie.

Die naaswenner Elizabeth Conradie Skool met ‘Ek sal jou rus gee’ is met ‘n R3 000 kontantprys beloon. Die skool het met die toekenning vir die beste tegniese versorging weggestap.

Die wengroep van die fees is ‘n groep jong werkende mans, ‘Die Boksombende’, wat die gehoor geboei en verras het met ‘Top Siekirit’.

Hulle ontvang R5 000 en het verdere toekennings ontvang vir die beste regisseur en beste nuutgeskrewe teks.

Die regisseur van ‘Top Siekirit’ was Chrisna Grobler en die skrywers is Justin Dreyer, Chrisna Grobler, Deon Grobler en Burrie Theunissen.

Die toneelstuk is ‘n lekkerlag stuk wat almal ‘n rat voor die oë sal draai.

‘n Spul troepe en hul kaptein, Kaptein O. Nosel, is op ‘n hoogs vertroulike missie om die tsjar van Rusland se geliefde skilpad Yuri, te gaan opspoor.

Hulle moet hul vrese opsy skuif, uit ‘n vliegtuig spring en die boendoes invaar om dié geliefde skilpad te gaan opspoor.

Uiteindelik na bloedsweet en klippe kou vind hul Yuri – of so dink hulle.

Na baie nadere ondersoek besef hulle dis ‘n landmyn.

Helaas, te laat en die rukkende soldate lê die verhoog vol gestrooi.

Was dit hul einde? Nee. ‘n Baie kwaai mamma kom die verhoog binnegestorm. Baie omgekrap oor hoe hulle die speelkamer in ‘n slagveld laat ontaard het, vlieg sy onder hulle in. Ja-nee, die hoogs vertroulike missie was eintlik net die verbeelding van ‘n paar sewejarige seuns.

Daar het vyf toneelstukke aan die kompetisie deelgeneem en die beoordelaars, Nadia Beukes en Tina Kruger het beslis hul hande volgehad om dié wenstuk aan te wys.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button