NewsSchools

Jannas toneel laat gehoor skaterlag

Hoërskool Jan Viljoen se dramagroep sorg vir hope opwinding tydens die bekendstelling van hul nuwe toneelstuk, Swewende Maan.

Hoërskool Jan Viljoen spog jaarliks met ‘n puik drama groep en vanjaar het dié groep net weer bewys dat hulle enige genre suksesvol kan aanpak toe hulle die gehoor tydens hul sop-en-sjerrie-aand van die lag laat krul het.

Volgens die regisseur van die toneel, Alta Steenekamp, het die sop-en-sjerrie-aand op 13 Augustus by Hoërskool Jan Viljoen se skoolsaal plaasgevind.

“Ek was werklik verbaas met die groot aftrek wat ons vanjaar geniet het.

“Daar was soveel belangstelling dat ons selfs ekstra stoele in die saal moes inbring om vir almal ‘n sitplek in die gehoor te gee,” vertel Alta trots.

Die hele saal was in rep en roer en kon nie wag om die produksie te sien nie. Vanjaar se produksie is getiteld Swewende Maan. Die teks speel in die jaar 2213, sowat 200 jaar voorentoe in tyd af.

Met die opening van die gordyne, aanskou die gehoor ‘n klomp vreemde mense, besig om navorsing te doen.

Die groep mense word later bekendgestel as studente wat navorsing doen oor die oermens – die mense wat tot en met die 21ste eeu geleef het.

Nadat hul rekenaar ‘n fout begaan beland ‘n 21ste eeuse mens op Swewende Maan waar die studente woon en skrik homself lam vir die vreemde gedrag van die inwoners van Swewende Maan.

“Die toneelstuk is belaai met humor en die gehoor het regdeur die aand geskater van die lag. Ek is werklik trots op die leerlinge en hul puik voordrag van dié toneelstuk,” vertel Alta.

Die toneelgroep bestaan uit Maree van Rooyen, Monique Austin, Dewaldt Greeff, Jackie Viljoen, Mario Matos, Itumeleng Mpete, Anuscha Weyers, Florinda Hearn en Niel Horn.

“Behalwe vir dié groep leerlinge wat die karakters in die toneel sal uitbeeld, het ons ook twee bekwame dogters wat die klank en beligting behartig het. Dié leerlinge is Charné Snyman en Charlene Mostert,” vertel Alta.

Alta vertel dat dit weer vanjaar vir haar ‘n voorreg was om haar dogter, Chanelle van der Berg as deel van die span te hê.

Chanelle is die verhoogbestuurder en het seker gemaak dat alles tydens die optrede seepglad verloop.

Na afloop van die toneelstuk het almal lekker saam gekuier en ‘n koppie sop geniet.

“Baie dankie aan elkeen wat die geleentheid bygewoon het. Elkeen van die leerlinge waardeer dit opreg.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button