Jaarliks is die Mnr en Mej Riebeeckrand skoonheidskompetisie ‘n groot hoogtepunt op Hoërskool Riebeeckrand se kalender.
Vanjaar spog dié skool weer met ‘n asemrowende gala-funksie waartydens hulle dié skoonhede gekroon het.
Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rikus Kruger, het die gala funksie op 2 Augustus by Silverstar Casino plaasgevind.
“Die aand was ‘n reuse sukses en die toeskouers asook die deelnemers het die geleentheid baie geniet.
“Om by te dra tot die atmosfeer tydens die geleentheid, het die Suid-Afrikaanse sanggroep NRG by die geleentheid opgetree en die gaste met hulle energieke lirieke vermaak,” vertel Rikus.
Nadat al die deelnemers op die loopplank verskyn het, het die beoordelaars behoorlik hul hande vol gehad om dié skoonhede se punte op te tel om sodoende te bepaal wie die wenners van die gesogte kompetisie is.
“Die gehoor was in rep en roer en baie opgewonde om uit te vind wie vanjaar se wenners is,” vertel Rikus.
In die Mej Riebeeckrand Junior kategorie, was Talor Badenhorst as tweede prinses gekroon, Nicole Buitendag is as eerste prinses aangewys en Kristen Piennaar is as Mej Junior Riebeeckrand gekroon.
Reinard Rall is tydens die geleentheid as Mnr Riebeeckrand aangewys.
In die Senior Mej Riebeeckrand kategorie, het Danika da Silva met die kroon vir tweede prinses weggestap. Chané Klynhans is as eerste prinses aangewys en Shenike Olivier is as Mej Riebeeckrand gekroon.
“Baie geluk aan elkeen van die leerlinge, julle het pragtig gelyk en hard gewerk om dié titels te verower,” vertel Rikus.



