Staan saam in gebed by AGS Greenhills
Diegene in die gemeenskap wat ernstig is oor gebed word uitgenooi om AGS Greenhills se gebedsweek by te woon.
AGS Greenhills gemeente bied weer van 2 tot 8 September ‘n gebedsweek aan en nooi die gemeenskap om deel te hê aan die wonderlike geestelike dissipline van gebed.
Volgens die pastoor by AGS Greenhills gemeente, Hannes van der Merwe, gaan hulle die week aan gebed onder verskeie temas wy.
“Die temas sluit verootmoediging, belydenis, vergifnis en geloftes in. Die ander temas is ‘Gebed vir sosiale nood en sosiale geregtigheid’, ‘Gebed vir die redding van ongereddes’, ‘Geestelike herlewing in die liggaam van Christus’, ‘Gebed vir jongmense en kinders’, ‘Danksegging’ en ‘Salwing van die Heilige Gees’,” vertel Hannes opgewonde.
Gedurende die gebedsweek kan diegene wat belangstel op die voorafbepaalde tye by die kerkgebou aanmeld en saam met die res van die gemeenskap kom bid.
Van 2 tot 6 September kan belangstellendes by enige van die drie gebedsure inskakel. Die eerste gebedsuur is van 5vm tot 6vm. Die tweede gebedsuur sal direk daarna begin en tot 7vm duur.
“Dié twee gebedsure is so beplan sodat diegene wat vroeër werk toe moet gaan die eerste gebedsuur kan bywoon,” vertel Hannes.
Verder kan die gemeenskap ook die aandbidure tussen 7nm en 8nm bywoon.
“Ons sal op Saterdag 7 September weer ‘n aandbiduur aanbied. Dit sal ‘n dankseggingsessie wees om eer te bring aan God vir die seëninge tydens die gebedsweek. Om die gebedsweek af te sluit, sal ons Sondagoggend 8 September ‘n Salwingsdiens aanbied. Die hele gemeenskap is welkom om dié diens by te woon,” vertel Hannes.
Vir verdere inligting, skakel gerus vir Elsa Kirsten by die kerkkantoor tussen 8vm en 2nm, Maandae tot Vrydae, by 011 692 3880.



