Vriendskapstuiste spog met suksesvolle kermis
Ten spyte van die koue, spog Vriendskapstuiste vanjaar weer met 'n baie suksesvolle kermis.
Randfontein Vriendskapstuiste het weer op 31 Augustus hul jaarlikse kermis aangebied en ten spyte van die koue het die Randfontein gemeenskap in hul massas opgedaag om dié geleentheid te ondersteun.
Volgens die matrone van Randfontein Vriendskapstuiste, Elsa Erasmus, was sy baie verbaas om te sien dat soveel mense die koue trotseer het om die dag by te woon.
“Die dag was ‘n reuse sukses en elkeen wat dit bygewoon het, het hulself gate-uit geniet.
“Ek kan nie genoeg dankie sê vir die inwoners van Randfontein nie.
“Julle maak dit beslis die moeite werd om elke jaar dié kermis aan te bied,” vertel Elsa.
Tydens die geleentheid het verskeie plaaslike sangers die feesgangers kom vermaak en vir die jongklomp was daar selfs ‘n springkasteel waarop hulle kon baljaar.
“Die was een van ons mees suksesvolle kermisse nog en ek bedank elke borg wat deelgehad het in die dag se sukses.
“Sonder julle sou dit nie moontlik gewees het om dié pretbelaaide dag aan te bied nie,” vertel Elsa ten slotte.



