Hoërskool Jan Viljoen spog jaarliks met ‘n puik dramagroep en vanjaar het dié groep net weer bewys dat hulle enige genre suksesvol kan aanpak.
Die toneelstuk, Swewende Maan, het op 9 September aan die Nasionale Eisteddfod deelgeneem en met hul puik teks en drama vernuf het hulle tydens dié optrede met ‘n diploma weggestap.
Met die begin van die toneelstuk, aanskou die gehoor ‘n klomp vreemde mense, besig om navorsing te doen.
Die groep mense word later bekendgestel as studente wat navorsing doen oor die oermens – die mense wat tot en met die 21ste eeu geleef het.
Nadat hul rekenaar ‘n fout begaan beland ‘n 21ste eeuse mens op Swewende Maan waar die studente woon en skrik homself lam vir die vreemde gedrag van die inwoners van Swewende Maan.
Volgens die reggiseur van die produksie, Alta Steenekamp, is die toneelstuk belaai met humor en die beoordelaars by die NEA het die produksie werklik met lof besing.
“Ek is werklik trots op die leerlinge en hul puik voordrag van dié toneelstuk,” vertel Alta.
Die toneelgroep bestaan uit Maree van Rooyen, Monique Austin, Dewaldt Greeff, Jackie Viljoen, Mario Matos, Itumeleng Mpete, Anuscha Weyers, Florinda Hearn, Niel Horn en Shiniz Claassen.
“Behalwe vir dié groep leerlinge wat die karakters in die toneel sal uitbeeld, het ons ook twee bekwame leerlinge wat die klank en beligting behartig. Dié leerlinge is Tian Kruger en Nicolaas Klopper,” vertel Alta.
“Warren Vermaak was ook die rekwisiete bestuurder vir die produksie.”
Alta vertel dat dit weer vanjaar vir haar ‘n voorreg was om haar dogter, Chanelle van der Berg as deel van die span te hê.
Chanelle is die verhoogbestuurder en het seker gemaak dat alles tydens die optrede seepglad verloop. Sy is ook vanjaar by die Nsionale Eisteddfod aangewys vir uitsonderlike kostumering, gremering en verhoog inkleude.



