Riaan sing in Klipdrift Idols finaal
Randfontein se eie Klipdrift Looklocal Idols finalis, Riaan Oberholzer, is gereed om die gehoor te verstom tydens die Idols finaal by Silverstar Casino.
Riaan Oberholzer het onglangs deurgedring na die finaal – Nasionale top 10 – van die Klipdrift Looklocal Idols en sal op 17 September by Silverstar Casino meeding in die finaal.
Riaan vertel dat hy verlede jaar saam met een van sy vriendinne, Tanya V – wat in 2011 die Klipdrift Idols kompetisie gewen het, na haar optredes toe gegaan het en op dié manier ‘n liefde vir die verhoog ontwikkel het.
Alhoewel hy eers as DJ op talle verhoë in en om Randfontein verskyn het, het Riaan vinnig sy liefde en talent vir sing ontdek.
“Met die nuutgevonde passie, was ek vuur en vlam om vir vanjaar se Klipdrift Looklocal Idols in te skryf en na 15-weke van strawwe kompetisie is ek as deel van die top vyf aangewys,” vertel Riaan.
Hy vertel verder dat die top drie van elke streek deurgedring het na die semi-finaal wat op 3 en 4 September by Silverstar Casino plaasgevind het.
“Oorspronklik het ek nie dié top drie gehaal nie. Ek was baie teleurgesteld en het geweet ek moes deurdring na die semi-finaal,” vertel Riaan.
Kort nadat die top drie aangewys is, het die organiseerders van die Klipdrift Looklocal Idols kompetisie vir Riaan gekontak en in kennis gestel dat hy saam met die oorspronklike top drie aan die semi-finaal by Silverstar Casino gaan deelneem.
Dié rondte het op 3 en 4 September plaasgevind en Riaan het tydens die rondte gewys dat hy beslis hier is om te bly.
“Ek is tydens die geleentheid as deel van die Nasionale Top 10 gekies.
“Dit was vir my so ‘n lekker gevoel om deur te dring na die finaal en dit nadat ek nie eers deel van die oorspronklike semi-finaliste was nie,” vertel Riaan.
Riaan sal op 17 September vir die laaste keer op die Silverstar verhoog verskyn in die poging om die Klipdrift Looklocal Idols kopetisie te wen.
“Ek voel dat my optredes uniek is.
“Ek probeer altyd iets nuuts en wys vir die gehoor wie ek is.
“Met die finaal gaan ek weer daarna streef om iets anders na die kompetisie toe te bring,” vertel Riaan.
Riaan bedank sy vriend en mede deelnemer, Shaun Schoombie vir al sy ondersteuning en hulp gedurende die kompetisie asook vir Bianca van Wyk wat hom regdeur die kompetisie bygestaan het.



